LettersOpinion

Gebrekkige grensbeheer maak dinge vir Suid-Afrika moeilik

Dit is onbillik dat Suid-Afrika se belastingbetalers moet opdok vir verbode immigrante en dat belastinggeld nie behoorlik aangewend word tot voordeel van sy eie burgers nie.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus)-leier, skryf:

Die jongste vlaag xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika is die gevolg van die ANC se gebrekkige en swak beheer van die land se grense, en in besonder die noordelike grens van Suid-Afrika.

Die ANC pluk nou die wrang vrugte van hierdie swak grensbeheer en moet daarom die volle verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar.

Dit is onbillik dat Suid-Afrika se belastingbetalers moet opdok vir verbode immigrante en dat belastinggeld nie behoorlik aangewend word tot voordeel van sy eie burgers nie. ’n Land se eerste prioriteit is om om te sien na die welstand van sy eie inwoners.

Elke land het ’n immigrasiebeleid, maar die onbeheerde toegang van immigrante in enige land plaas geweldige druk op so ’n land se fiskus, sy maatskaplike dienste soos gesondheid, sy waterbronne, elektrisiteit en veral werkgeleenthede.

Suid-Afrika beleef ’n krisis in terme van werkskepping omdat die ekonomie nie groei nie weens die ANC se sosialistiese benadering van die ekonomie en die nie-toepassing van vryemarkbeginsels.

Namate werkloosheid in die land toeneem, voorsien die VF Plus meer xenofobiese aanvalle omdat Suid-Afrika se burgers van werkgeleenthede ontneem word.

Die standpunt van die VF Plus is dat daar strenger opgetree moet word teen onwettige immigrante en dat behoorlike grensbeheer toegepas moet word deur onder meer korrupsie by grensbeheerposte uit te roei en deur die behoorlike bewaking en beheer van die land se grense.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button