Johan Kruger, Suid-Afrikaanse Poskantoor, skryf:
Die Poskantoor het in die afgelope tyd ’n toename in pakkies opgemerk wat na die buiteland gepos word, maar wat nie afgelewer kan word nie aangesien die inhoud onveilig vir lugvervoer is.
Regulasies wat die veiligheid van lugvragitems reguleer, is onlangs verskerp. Die hoofoorweging is dat geen stof wat maklik ontbrand, ontplof of uitlek toegelaat word nie.
Items wat nie meer per lug vervoer mag word nie, sluit litiumbatterye, vloeistowwe en rome in.
Alle possakke word met gesofistikeerde X-straalmasjiene ondersoek voordat dit op vliegtuie gelaai word en sakke met verbode items word teruggestuur nadat dit ondersoek is.
Nog items wat nie per pos vervoer kan word nie, sluit in ontvlambare of plofbare stowwe, lewende organismes, biologiese materiaal en diere of dierprodukte. Dit sluit pels en ivoor in.
Bykans alle lande verbied die invoer van gifstowwe, plantmateriaal of medikasie sonder spesiale invoerpermitte. Hierdie items word dan in die land van aankoms gekonfiskeer en vernietig.
Juwele, edelstene en edelmetale moet verseker word.
Maak seker jou pakkie kom veilig anderkant aan.
Pakkies moet stewig verpak word, want dit word as massavrag vervoer.
As die item wat jy pos nie die houer volmaak nie, is dit raadsaam om die leë ruimte met polistireen of selfs versnipperde papier te verpak. Die maksimum gewig van ’n pakkie is 30 kg.
As ’n mens items oor die internet bestel, vra die afsender om jou selnommer op die pakkie aan te bring. Die poskantoor se volg- en spoorstelsel kan die afsender dan per SMS in kennis stel as die pakkie gereed is by die plaaslike poskantoor om afgehaal te word.