
Wouter Wessels, Vryheidsfront Plus (VF Plus): lid van die parlement (LV) en hoofwoordvoerder: samewerkende regering en tradisionele sake, skryf:
Die ANC-regering kan nie langer wegkyk terwyl plaaslike regering in duie stort nie.
Aangesien feitlik al die probleme by munisipaliteite onder ANC-beheer plaasvind, kan en moet daar opgetree word om van slegte elemente ontslae te raak en munisipaliteite op die pad na herstel te plaas.
Daar kan nie langer gesloer word met dié krisis nie. Munisipaliteite is in ’n haglike toestand met slegs 18 van die 257 munisipaliteite landwyd wat onlangs ’n skoon oudit van die ouditeur-generaal (OG) gekry het. Altesame 92% van munisipaliteite het nie voldoen aan wetgewing wat plaaslike regering vereis nie.
Tog is daar geen gevolge vir diegene wat wette en regulasie oortree nie. In die laaste maand het 113 munisipale rade op ’n onwettige wyse begrotings goedgekeur sonder enige geld. Munisipaliteite wat in terme van Artikel 139-administrasie funksioneer, gaan in die meeste gevalle verder agteruit.
’n Voorbeeld hiervan was toe ’n balju van die hof beslag gelê het op die rekeninge van die Mafube-munisipaliteit in die Vrystaat wat reeds langer as twee jaar onder administrasie is. Die munisipaliteit het geen bankrekening nie. Hy kan nie dienste lewer of salarisse betaal nie. Hoe is so iets moontlik?
Daar bestaan geen verantwoording, of die politici wil nie iets aan die probleem doen nie. Die departement het talle programme ter ondersteuning van munisipaliteite, maar niks gebeur nie. Vyf jaar gelede is die sogenaamde “Back to Basics”-program in werking gestel om oplossings te vind vir munisipaliteite se wanbestuur, maar ook daar het niks gebeur nie.
Die departement kan nie lukraak die pligte van plaaslike regering oorneem nie. Die werklikheid is dat die munisipaliteite waar dit die slegste gaan, onder ANC-beheer is.
Senior ampsdraers soos ministers en voorsitters van komitees moet dit verduidelik. Hulle kritiseer die munisipaliteite, maar tog tree hulle nie op teen die oortreders wat ANC-lede is nie.
Hulle tree nie op teen rade wat mense aanstel en hulle toelaat om vergrype te pleeg nie.
Munisipaliteite in Suid-Afrika moet kleiner gemaak word. Die teenoorgestelde sal egter waarskynlik gebeur. Dorpe en streke word saamgevoeg om groot munisipaliteite en metrorade te vorm, maar al wat verbeter, is die salarisse van raadslede en amptenare.
Die krisis kan net beredder word deur elke dorp sy eie munisipaliteit met die beste gekwalifiseerde personeel, soos plaaslike ingenieurs, te gee. Hulle is beskikbaar. Of dit sal gebeur, is te betwyfel aangesien die ANC munisipaliteite misbruik vir kaderontplooiing.
Die VF Plus se boodskap aan die ANC-regering in dié verband is duidelik: Tree daadwerklik op. Net dit kan die krisis in plaaslike regering — wat ’n wesenlike bedreiging vir Suid-Afrika se toekoms inhou — oplos.