
Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte, Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), skryf:
Die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) — ’n inisiatief wat uit die Trust vir Afrikaanse Onderwys se visie vir volhoubare gehalte Afrikaanse onderwys gebore is — het reeds landwyd venootskappe met verskeie skole aangegaan.
Die AON is ook opgewonde oor vennootskappe met verskeie skole in Die Pos se lesersgebied en inwoners kan uitsien na gereelde terugvoer oor die AON se inisiatiewe in dié omgewing.
Die AON is primêr in die lewe geroep om Afrikaanse onderwys te ondersteun en ’n grondslag vir Afrikaanse moedertaalonderrig — van kleuterskool tot tersiêre vlak — te vestig. Dit is ’n oorkoepelende liggaam wat met bestaande organisasies soos Fedsas, die SAOU, die Skole-Ondersteuningsentrum (SOS), die ATKV, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), Woorde Open Wêrelde (WOW) en tersiêre instellings soos Akademia en die Noordwes-Universiteit (NWU) hande vat en probeer om leemtes te identifiseer, strategiese dienste te voorsien en vennootskappe te vestig wat gebruik kan word om die toekoms van Afrikaanse onderrig te verseker.
Die AON glo daar is in terme van die grondwet ’n plek vir Afrikaans in die openbare skoolstelsel. Daar is tans 978 enkelmedium laerskole en 211 hoërskole in die land. Hoewel daar nie ’n duidelike afname in enkelmediumskole oor die land is nie, is dit ongelukkig wel die geval in dubbelmedium skole waar al hoe meer skole verengels.
Afrikaans is egter nog steeds uiters relevant in die onderrigmilieu van Suid-Afrika. Lidmaatskap is nie gekoppel aan kleur, ras of etnisiteit nie, maar aan die liefde vir Afrikaanse, moedertaalonderrig en gehalte onderwys. Alle skole — openbare én onafhanklike skole — tersiêre instansies, volwasse opleidingsentrums en universiteite waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik word, vorm deel van die AON se teikenmark.
Een van die organisasie se hooffokuspunte is tans die vestiging en versterking van Afrikaanse kleuterskole.
Die AON streef ook daarna om Afrikaanse openbare skole te beskerm en hulp te verleen om voorvalle soos dié by Hoërskool Overvaal te ondervang deur die beheerrade en bestuur toe te rus om soortgelyke situasies en voorvalle doeltreffend en tot voordeel van die leerder en reg tot moedertaalonderrig te bestuur.
Enige onderwysinstelling wat tot Afrikaans as onderrigtaal verbind is, kan gratis lid van die AON word. Die passie vir die Afrikaanse taal, moedertaalonderrig en gehalte onderwys is egter ’n voorwaarde.