
Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier, Vryheidsfront Plus, skryf:
Partye in ’n parlement is veronderstel om intelligente, beskaafde en opgevoede individue te wees wat die bevolking verteenwoordig.
Selfs vir ’n woordryke mens is dit ’n uitdaging om ’n onlangse voorval in die parlement te beskryf. Die agbare lede van die EFF se intimidasie van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, toon geen teken van hoflikheid of intelligente optrede nie. Pleks van debateer, is die minister aan boewery blootgestel toe die EFF-lede hom omsingel en fisiek in gevaar gestel het.
Die speaker se gesag dra eweneens weinig gewig. Die EFF het geen ag geslaan op haar versoek dat hulle die raadsaal moet verlaat nie. Hierdie keer het hulle afstootlike slagspreuke nie aan hul vereistes van intimidasie voldoen nie, selfs nie eens onlogiese argumente en radikale optrede soos voorheen in die openbaar skroomloos gebruik is nie.
Die oomblik toe ’n EFF-parlementslid na die podium gestap het, uitdagend en met ’n dreigende houding, het die land asem opgehou. ’n Ander voorval het sekerlik vir ’n oogknip voor talle se geestesoog herleef.
Dimitri Tsafendas het op 6 September 1966 ook geweld gebruik om politieke verandering af te dwing toe hy dr. Hendrik Verwoerd in die parlement ten aanskoue van ’n geskokte Suid-Afrika vermoor het. Daardie dag het die nasie nie net asem opgehou nie; die land is geskud.
In die jongste gebeure in die parlement het niemand geweet of die EFF-lid met ’n vuis of ’n mes die land tot stilstand gaan bring nie. Op sosiale media stel die EFF onomwonde dat hulle hierdie optrede sonder om ’n oog te knip sal herhaal. Is dit die beskawingsvlak waar ons ons nou bevind? Die Vryheidsfront Plus doen ’n beroep op die parlement, asook ander partye, om so streng moontlik teen die EFF op te tree. Streng optrede is egter nie die bestuurstyl van die ANC nie. Elkeen wat na dese die parlement as hoflik, intelligent en ’n instelling met gesag wil beskou, vertrou dat indien die ANC die moed of wil ontbreek om op te tree, elke ander party in die parlement daarop sal aandring.
Die room van die bevolking hoort in die parlement. Maar hierdie metafoor is kwalik op ons parlement, soos dit tans is, van toepassing.