
Johann Meyer, Modimolle, skryf:
Enkele maande gelede het die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) moontlike bedrog by 2 800 rekeninge uitgewys.
Die gevolg is dat betalings na die rekeninge gestaak is. In die proses is onskuldige begunstigdes se betalings ook gestaak. Volgens inligting sou hierdie geen probleem vir die betrokke begunstigdes wees nie, aangesien hulle slegs ’n eedsverklaring by die polisie moes aflê en die stand van sake onder Sassa se aandag bring.
Ek het ongeveer drie jaar gelede vanaf die Vrystaat na Modimolle verhuis. Ek het Sassa in Modimolle daarvan verwittig en my vorige Sassa-kaart vernietig, maar sedert Mei vanjaar kon ek nie die balans in my Sassa-rekening onttrek nie.
By nadere ondersoek het dit geblyk dat daar al die jare ’n dubbele inbetaling in my rekening gemaak is, aangesien my verhuising nie aangeteken is nie. Ek het Sassa herhaaldelik gaan spreek, maar het geen toelae vir Junie en Julie ontvang nie. Sassa het voet by stuk gehou en my foutiewelik van bedrog beskuldig. Ten einde raad het ek die Vryheidsfront Plus, via Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier van die party in Limpopo, genader om my te help.
Ek was aangenaam verras toe die provinsiale leier, Marcelle Maritz, die saak as só dringend beskou het, dat sy saam met my na Sassa in Modimolle gegaan het. Waar die amptenare my voorheen weggewys het, het hulle haar die versekering gegee my toelae sal aan die begin van Augustus inbetaal word en die agterstallige bedrag sal ook inbetaal word.
Tot my groot verligting was my toelae, soos belowe, op 1 Augustus in my rekening. My hartlike dank aan Karel Niewenhuis, Marcelle Maritz en haar personeel van die Vryheidsfront Plus vir hule onverwylde aandag. Dit is ’n riem onder die hart om te weet daar is nog ’n party wat nie net politiek bedryf nie, maar sy ondersteuners in woord en daad bystaan.