
Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier, skryf:
Die VF Plus wil hulde en eer bring aan die vroue van Suid-Afrika wat die land gehelp bou het en dit steeds doen.
Deur die geskiedenis het vroue nog altyd ’n belangrike rol in die land gespeel en veral diep spore getrap in die geskiedenis van die Afrikaner.
’n Enkele, treffende voorbeeld is iemand soos Nonnie de la Rey, eggenote van die bekende Boeregeneraal Koos de la Rey. Sy het 18 maande lank met haar kinders in die veld rondgeswerf en dit reggekry om die Engelse magte te ontwyk wat aktief na haar gesoek het.
Deur haar dade het sy onder haar beroemde eggenoot se skadu uitbeweeg en ’n heldin in eie reg geword. Die Engelse sou nooit die voorreg smaak om De la Rey te vang en in ’n konsentrasiekamp aan te hou nie.
Só hoog het die Afrikanervolk sy vroue aangeslaan dat ’n monument ter ere van vroue opgerig is — sover bekend die eerste volk om vroue op dié wyse te vereer. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein is op 16 Desember 1913 onthul en dien ter herinnering aan die vroue en kinders wat in die Anglo-Boereoorlog gely en gesterf het.
Indien daar vandag gekyk word na die geweld teen vroue en kinders, is dit duidelik dat die ANC-regering nie daarin slaag om hulle te beskerm nie. Suid-Afrika is die land met die hoogste verkragtingsyfer ter wêreld en word ook beskou as die land waarin dit die gevaarlikste is vir ’n vrou om alleen te reis.
Dit is bekend dat daar groot tekortkominge by die polisie self is rakende die aanmelding van misdaad teenoor vroue en dat hierdie soort misdaad nie die nodige aandag kry wat dit moet nie. Die voorkoms van misdaad teen vroue kan daarom selfs veel hoër wees as wat die statistieke aandui.
Respek teenoor vroue moet in die eerste plek by die huis gekweek word waar vaders en mans die voorbeeld moet stel. Daarom moet daar ook aandag gegee word aan die maatskaplike probleme in die land wat deel is van die sosio-ekonomiese probleme van Suid-Afrika.
Pres. Cyril Ramaphosa sê graag dat daar sterk opgetree moet word teen geweld teenoor vroue en kinders, maar die leemtes aan polisiekant maak hulle kwesbaar en dit sal daadwerklik aandag moet geniet om seker te maak die land se vroue is veilig.