
Dr. Corné Mulder, Vryheidsfront Plus (VF Plus): hoofsweep, skryf:
Pres. Cyril Ramaphosa erken dat hy bewus is van ontevredenheid onder minderhede in Suid-Afrika en sê hy is bereid om daaraan aandag te skenk en om met die VF Plus oor die aangeleentheid in gesprek te tree.
Dié erkenning en toegewing het gevolg nadat die VF Plus die president tydens vraetyd in die parlement gepols het oor ontevredenheid weens die marginalisering en vervreemding van minderhede in die land.
Ramaphosa het gesê die lot van minderhede was voor 1994 hoog op die agenda en die tyd het aangebreek om weer daaraan aandag te skenk.
Die VF Plus het aan Ramaphosa gesê dié party is gereed om met hom en die regering in gesprek te tree. Die VF Plus het voorts gesê die toets van ’n ware demokrasie is hoe ’n regering na minderhede omsien. In Suid-Afrika is minderhede nie net ’n persepsie nie, maar ’n werklikheid.
Niemand teken beswaar aan wanneer ongelykhede van die verlede aangespreek word nie, maar daar kan nie net na die een groep gekyk word en nie na die ander nie. Wanneer minderhede voel hulle word geminag, moet dit aandag kry.
Suid-Afrika se Grondwet maak dit duidelik dat die land se president eenheid onder alle mense moet bevorder tot groter voordeel van die land.
Voorheen is te veel gesien hoe leiers van die regerende party net aandag skenk aan eenheid binne hul party en nie noodwendig aan die land nie. Dit is verkeerd en veroorsaak probleme. Minderhede wil ’n bydrae lewer tot vooruitgang in die land, maar voel tans uitgesluit.