
Albie Pretorius, Bela-Bela, skryf:
Dit is bloedig warm en droog.
Die land gaan gebuk onder die ergste droogte in dekades. Diere en plante swig voor die aanslag van die son.
Damme droog op en ons wag in spanning op die dag dat ons hier in Bela-Bela ook van water uit boorgate afhanklik sal wees, soos mense in Graaf Reinette en elders in ons land.
Dan ry ’n mens deur die dorp en sien — in die middel van die dag, wanneer niemand veronderstel is om tuine nat te spuit nie — dat sproeiers vol oop is en grasperke lowergroen is by huise met ’n bordjie op die hek wat lui: Boorgat.
Ek wonder of dié mense dink die water wat hulle so mildelik gebruik is net van onder húlle erwe afkomstig. Gebruik hulle nie water wat eendag ons almal aan die leef moet hou nie? Dit is kortsigtige en selfsugtige gedrag.
Dit is soos almal wat die aarde vir dekades met plastiek besoedel het en vandag besef ons wat die gevolge van ons eie gemaksug en gebrek aan beplanning aan die omgewing, ons én ons kinders is. Spyt kom altyd te laat.
Ons kla oor die munisipaliteit wat nie dadelik gebarste pype herstel nie en soms duisende liter water verlore laat gaan. Maar is die gebruik van boorgatwater vir ’n privaat woning se tuin nie ’n gelyksoortige mors van óns kosbare water nie?