
Waar is die outyd, via Facebook, skryf:
Ek wil uit ’n objektiewe oogpunt die volgende oor die afgelope matriekafskeid met lesers deel: Daar is verskeie kinders wie se ouers nie die astronomiese uitgawes wat tans op matriekafskeidsgeleenthede bestee word, kan bekostig nie.
Dit is lankal nie meer net ’n mooi rokkie nie, maar bykomende uitgawes vir hare, naels, grimering, juweliersware, fotograwe en natuurlik die luukse motors laat die skaal baie vinnig swaai na “buitensporig duur”. Ek het verneem dat sekere ouers tot R40 000 op so ’n geleentheid bestee.
Dit was tragies om te sien hoe ouers (en natuurlik hul kinders!) op daardie rooi tapyt spog met alles terwyl ander net verbysluip, want hulle is nie in daardie “klas” nie.
My oorwoë mening is dat ’n matriekafskeid deesdae ’n statussimbool geword het en die dam onder die eend uitgeruk word met astronomiese onkoste wat sekere ouerpare en kinders minderwaardig laat voel.