
Willie Gunther, Bela-Bela, skryf:
Ek reageer op Albie Pretorius se brief in Die Pos van Vrydag 25 Oktober oor die besparing van boorgatwater.
Na my mening word huisbewoners wat grasperke met boorgate natlei onnodig gekritiseer en van kortsigtige en selfsugtige gedrag beskuldig.
Ek beskou haar uitlating as lasterlik en versoek haar om verskoning te vra vir haar opmerkings in dié verband. Dit is ontstellend dat huiseienaars met boorgate gestenig word weens ongegronde gevolgtrekkings.
Ek is ook baie bekommerd oor boorgatwatervlakke. My boorgat se watervlak het verlede jaar só aansienlik gedaal dat my boorgatpomp uitgebrand en vervang moes word.
Dit was kort nadat ’n sportklub in die omgewing ’n boorgat gesink het sonder om met enige van die huiseienaars in die onmiddelike omgewing te konsulteer oor die moontlike gevolge van dié besluit.
Dit is goed om oplettend te wees oor moontlike watervermorsing in ons gemeenskap, maar my raad is om ook maar te gaan kyk na daar waar ’n mens lowergroen sportvelde sien.
Gemeet aan die waterverbruik van my huis en tuin, uit my eie boorgat wat ek ten duurste laat toerus het, teenoor die waterverbruik van so ’n sportklub, ag ek myself glad nie as iemand wat kortsigtig en selfsugtig is nie. Die probleem moet elders gesoek word.
Die meerderheid van ons boorgateienaars gebruik na my mening ons boorgate vir huishoudelike- en tuingebruik om by te dra tot ’n besparing van munisipale water vir die gemeenskap.
Daar kan moontlik wonings wees met “boorgatbordjies” op, maar die eienaars besit nie eens ’n boorgat nie en probeer net om munisipale water vrylik en misleidend te gebruik.
Wie is dan nou eintlik die skuldige partye wat nie ons kosbare ondergrondse water beskerm nie?