
Kantlyngeesdriftige, Bela-Bela, skryf:
Daar is die afgelope week in Die Pos — en selfs in die redakteurskolom — oor wedvlugduiwe berig.
Twee gebeurtenisse rondom wedvlugduiwe bly my by.
Daar was ’n jong duiweboer wat by ’n melkfabriek gewerk het. Om sy duiwe oefening te gee, het hy weekliks ’n mandjie duiwe saam met die melktenkwa na ’n sekere melkboer gestuur. Die boer moes dan die duiwe op ’n sekere tyd loslaat.
Onder die duiwe was ’n rooigeveerde duif wat vir die plaasboer nie soos ’n wedvlugduif gelyk het nie. Om die duif ’n voorsprong bo die ander te gee, het hy die rooi duif ’n hele ruk voor die ander losgelaat. Soos verwag was die rooi duif eerste terug by die hok.
By navraag van die duiweboer het die plaasboer gesê dat al die duiwe op presies dieselfde tyd losgelaat is. Die duiweboer het toe by die klub begin spog oor die kampioen in wording.
Die eerste wedvlug van die rooi duif was ook sy laaste — so ook dié van die duiweboer.
’n Ander duiweboer en sy maters het weer laataand, ná ’n rugbywedstryd, besluit om iewers langs die Wilgerivier te gaan barbers vang. Die duiweboer bied toe van sy uitskotduiwe as aas aan.
Die manne het hul hengelgerei gaan kry en by die huis van die duiweboer bymekaar gekom om die aas te versamel. In die dowwe lig is die duiwe nek-omgedraai en in ’n sak geprop.
Hoe die nagtelike barbervangery verloop het, is nie bekend nie, maar dié uitstappie het glo tot die einde van ’n vriendskap gelei toe die duiweboer met dagbreek verslae besef het dat die duiwe wat as uitskotduiwe bedoel was, nog veilig op hok was …