
Gawie Richter, Modimolle, skryf:
Ek verwys graag na die brief “Matriekafskeid ruk hand uit” in Die Pos van Vrydag 25 Oktober.
Hoe jammer tog dat die armoedekaart om trane te trek hier gespeel word — net soos wat ’n sekere minister lief is om te doen. Dit maak ’n mens keelvol en die argument is afgesaag. Daar is tog deesdae talle instansies waar gratis kleredrag bekom kan word.
Ek weet van gesinne wat behoeftige kinders van kop tot tone uitgerus het sodat hul spesiale aand onvergeetlik kon wees. Ek sal graag wil weet wat hierdie skrywer se bydrae tot vanjaar se matriekafskeidgesellighede was.
Matriekleerders verdien so ’n besondere dag om die skool waar hulle vir die toekoms voorberei is, vaarwel te roep.
Ouers en kinders het 12 jaar gehad om vir hierdie dag voor te berei.
Of ’n kind met ’n helikopter of donkiekar by die geleentheid opdaag, of hulle kaalvoet of in tekkies met sonbrille is, hulle verdien almal dieselfde applous.
Die matriekafskeidgeleentheid is vir my jaarliks soos ’n toneelopvoering wat almal terdeë geniet.
Diegene wat baie keer nie deftige klere vir ’n matriekafskeid kan bekostig nie, staan dikwels weer voor in die ry vir keuring tot gratis studies aan universiteite met beurse en subsidies.