
Gawie Richter, Modimolle, skryf:
Dit is warm en droog, maar mense eet, drink en is vrolik.
Waarom kla, want die winkelrakke is volgepak met produkte om van te kies en keur?
Kersfees kom en oral flikker liggies en winskope word aangekondig. Die winkels verskaf kos en ding mee om die beste pryse.
’n Mens sien oral duidelike tekens van voorspoed en mense wat oordadig eet. Tog word die oorsprong van die voedsel verswyg omdat die woorde “boer” of “Afrikaans” op ’n produk moontlik verkope kan striem.
Terwyl ’n handjievol sonverbleikte manne swoeg vir spys en drank, is daar minder publisiteit oor ’n plaasmoord as ’n renoster wat onwettig gejag word.
Vir ’n sak vol aartappels ontvang ’n boer minder as vir die skyfies van ’n enkele aartappel op ’n bord en minder vir ’n emmer melk as ’n glas vol oor ’n toonbank.
Oppas net vir die dag wanneer die melkkoei opdroog en die boorgate wind sluk.