Albie Pretorius, Bela-Bela skryf:
Ek wil graag aansluit by Willie Gunther se brief in Die Pos se uitgawe van Vrydag 1 November.
Ek besef ná sy antwoord op my skrywe dat almal wat water vermors, nie net mense met boorgate is nie en ek vra verskoning vir daardie aanname van my.
Nadat ek sy brief gelees het, het ek besef dit is wat my gepla het: die groen grasperke, water wat in die middel van die dag spuit en die boorgatbordjies wat in die straat sigbaar is. Soms valslik, glo ek nou.
Wat sportvelde betref voel ek ook dat minder water gebruik moet word. Lei nat, maar op die regte tye en met streng tydsbeheer.
Ons moet almal help om water te bespaar. Inwoners moet droogtebestande plante aanplant en minder water gebruik om glase uit te spoel. Ons kan by Kaapstad se mense leer hoe om water te spaar.
Dieselfde geld elektrisiteit.
Al sou ons regering genoeg krag kon voorsien, bly spaarsamigheid ons almal se verantwoordelikheid. Daar is baie maniere om jouself en jou huis koel te hou sonder die gebruik van ’n lugverkoeler.
Ons moet voorsiening maak vir uitgebreide water- en kragonderbrekings, want dit gebeur landwyd. As meer mense besef dat elke druppel water en krageenheid wat elkeen spaar ’n groot verskil in ons daaglikse lewens kan maak, sal die donker wolk wat oor ons hang ’n silwer randjie kry. (Brief verkort. — Red.)