
Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die landbounetwerkorganisasie Saai, skryf:
“Let us not forget that the cultivation of the earth is the most important labour of man. When tillage begins, other arts will follow. The farmers, therefore, are the founders of civilization.”
Byna twee eeue later geld hierdie gesegde van Daniel Webster, Amerikaanse staatsman, steeds.
Die beskawing kan eenvoudig nie sonder kos bestaan nie en dit is hoekom die wêreld altyd boere nodig sal hê.
Die wêreldbevolking sal na raming teen 2050 bykans 10 miljard wees. Dit beteken dat ons byna twee keer soveel voedsel as wat daar tans is, sal moet produseer te midde van die uitdagings van voeding, armoede en onvolhoubare vlakke van massamigrasie wat stedelike gebiede en gemeenskappe potensieel kan verswelg.
Familieboere besit ongeveer 70-80% van benutte plaasgrond en produseer meer as 80% van die wêreld se voedsel wat waarde betref. Verder is familieboere die grondslag van dorpies en die anker van landelike ekonomieë en gemeenskappe.
Terwyl hulle voedsame voedsel vir stedelinge produseer, verskaf familieboere ook broodnodige werkgeleenthede aan plaaslike gemeenskappe en beteuel hulle onvolhoubare vlakke van migrasie.
In die lig van hierdie projeksies het die Verenigde Nasies en sy filiale besef dat familieboere in die beste posisie is om hierdie kwessies die hoof te bied.
Hulle het egter die steun van regerings, die burgerlike samelewing en tersaaklike wetgewende liggame nodig om pro-familieboerderybeleide op te stel wat die werklikhede waarmee familieboere elke dag te doen kry, in groter mate in aanmerking neem.
Gevolglik is die Verenigde Nasies se Dekade van Familieboerdery 2019-2028-plan in Mei vanjaar in Rome, Italië, van stapel gestuur as raamwerk om die belange van familieboere te bevorder.
Die taak wat voorlê is geweldig. Ons kan nie van familieboere verwag om van die grootste wêrelduitdagings die hoof te bied as hulle nie hulle beroep kan beoefen in ’n omgewing wat veilig en bevorderlik vir groei en voortgesette produksie is nie.
Dit is hoekom die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) die resolusie oor die beskerming van familieboere aangeneem het.
Hierdie konsepresolusie veroordeel enige vorm van geweld, of die aanhitsing daarvan, teen familieboere en doen ’n beroep op alle staatspartye om misdade teen familieboere proaktief te moniteer, teen te werk en te voorkom.
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, het vroeër daarop gewys dat geweld teen Suid-Afrikaanse familieboere in verskeie opsigte uniek is. Hy het gesê moorde op familieboere is meer wreedaardig as ander moorde in die land.
Die motiewe vir hierdie moorde is meesal onbekend, afgesien van hul beroep wat boere in landelike gebiede kwesbaar maak.
Die sosiale en selfs politieke omgewing is onduidelik oor hierdie dade, en in sommige gevalle word die aanvalle selfs op sosiale media aangemoedig en verheerlik.
Die jeug is die toekoms van die familieboerdery en geweld teen familieboere kan ook meebring dat toekomstige geslagte nie die uitdaging sal aanvaar nie.
Saai sal in die komende jaar met verteenwoordigers van buitelandse regerings en boereorganisasies van dwarsoor die wêreld vergader met die doel om die resolusie in September 2020 in die VN se Algemene vergadering ter tafel te lê.
Dit is hoekom ons ’n beroep op alle familieboere, vriende van familieboere en verbruikers doen om hulle steun aan die resolusie toe te sê by www.farmersresolution.org(.)