
Michal Groenewald, VF-Plus LP en hoofwoordvoerder vir samewerkende regering, skryf:
ANC-patronaatskap mag nie ’n paspoort wees om ongestraf by ernstige wandade betrokke te wees nie.
Hoewel die ouditeur-generaal (OG) nou bevind het dat die R1,6 miljard wat munisipaliteite by die VBS Bank belê het waarskynlik nie verhaal sal kan word nie, dring die VF Plus daarop aan dat amptenare wat betrokke was, vervolg word en dat die geld van hulle persoonlik verhaal moet word.
Wat by die VBS gebeur het, is ’n goeie en duidelike bewys dat korrupsie en bedrog ’n direkte invloed het op veral die armste mense aangesien die R1,6 miljard aangewend moes word om dienste aan die gemeenskap te lewer.
Dit het nie gebeur nie en daar is al wyd berig oor hoe die geld in die sakke van onder andere sekere politici beland het. ’n Skatryk groepie kaders is bevoordeel ten koste van die armes.
Die regering moet wys hy is ernstig oor sy bestryding van misdaad en korrupsie deur nie net op te tree teen die skuldiges in die VBS-skandaal nie, maar alle korrupsie en bedrog uitwis deur werklike vervolging en optrede weens die direkte gevolg daarvan.
Volgens die OG was die grootste deel van die VBS-geld afkomstig van ’n georganiseerde skema waar geld onwettig deur munisipaliteite by VBS “belê” is. Die res van die beleggings is verkry van arm, weerlose mense.
Die invloed op die betrokke munisipaliteite en hul gemeenskappe is enorm.
Die verliese raak nie net geld wat vir groeigerigte infrastruktuurprojekte bedoel was nie, maar ook geld vir basiese dienste en lopende uitgawes.
Wat hier gebeur het, is een van die ergste gevalle van georganiseerde misdaad in die land se geskiedenis en net daadwerklike optrede en swaar strawwe sal ’n duidelike boodskap uitstuur dat geen vorm van misdaad geduld sal word nie, ongeag of dit gepleeg is deur ANC-kaders of nie.