
Gawie Richter, Modimolle, skryf:
Druppels wat weer van kranse en rotse neerstort, herinner aan die trane van wanhoop wat oor wange gevloei het weens die afgelope tyd se droogte.
Nou is die Waterberg weer die Wáterberge.
Ons het gebid, gesmeek en gevra en ons gebede is verhoor. Mens en dier juig en jubel.
Bome en struike wat geen teken meer van lewe getoon het nie, het ontwaak en begroet ons met hul blommeprag. In kampe langs paaie is diere reeds besig om aan die groen lower te smul. Die afgelope tyd se reënval het weer lewe en hoop gebring. Ons sê dankie vir die uitkoms terwyl ons plekke waar boorgate opdroog en geen weiding oor is nie opdra aan Hom wat op Sy tyd uitkoms sal bring.
Onthou egter asseblief dat die opgaardamme nog steeds leeg is en water steeds spaarsaam gebruik moet word.