
Jan van Niekerk, VF Plus Vrystaatse provinsiale leier, skryf:
Die onlangse plaasaanvalle in Ventersburg en Bultfontein in die Vrystaat beklemtoon die noodsaak vir meer doeltreffende landelike beveiliging.
Die onlangse landelike veiligheidsplan wat deur die regering bekendgestel is, moet daadwerklik geïmplementeer word en nie net by lippetaal bly nie.
Die VF Plus veroordeel alle moord en geweld in Suid-Afrika, maar veral geweld op die landbougemeenskap weens die weerloosheid van landelike gemeenskappe.
Dit is betreurenswaardig dat landbouers hulle moet bekommer oor hul veiligheid te midde van een van die ergste droogtes wat Suid-Afrika in jare beleef.
Die VF Plus doen ’n beroep op boere om hulself, hul gesinne en plaaswerkers veral in die komende Kerstyd te beveilig omdat dié soort misdaad in hierdie tydperk toeneem. Boere moet paraat wees en hulself weerbaar maak.
Die VF Plus het nog altyd erns gemaak met plaasaanvalle en beywer hom om volgehoue druk op die regering te plaas om plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad te verklaar.
Die VF Plus wens alle betrokkenes en hul gesinne ’n spoedige en volkome herstel toe en sal die nodige hulp verleen om te verseker dat die skuldiges opgespoor en vervolg word sodat geregtigheid geskied.