
Koop-nie-weer-nie, Modimolle, skryf:
Ek stap twee weke gelede by ’n volgepakte winkel in die hoofstraat van Modimolle in.
Ek sien niemand toe ek tussen die rakke begin deurstap nie. Ná ’n ruk hoor ek iemand skree: “Goeie middag!” Ek kyk rond, maar sien nog steeds niemand nie. ’n Tweede maal hoor ek iemand “goeie middag” skree.
Ek tree tussen die rakke uit net om ’n man te sien wat agter in die winkel sit met sy hande agter sy kop; bene voor hom uitgestrek.
“Wat soek jy?” kom dit nog steeds vanuit dieselfde posisie.
Ek sê waarna ek op soek is. Met nog geen roering van sy kant nie, sê hy: “Ons het dit nie.” Maar toe roep hy tog die assistent van agter uit ’n stoorkamer om te kom help.
’n Vriendelike vrou kom na my toe. Ek sê weer waarna ek op soek is en daar haal sy die artikel van die rak af. Die winkel het dit toe!
Ek het die geld aan die assistent gegee om te gaan betaal. Ek het nie die sittende man belangrik genoeg geag om na hom toe te stap en die artikel te betaal nie.
Totdat ek die winkel verlaat het, het hy nooit uit sy sit-lê posisie regop gekom nie.
Nodeloos om te sê: Ek sal beslis nie weer dié onderneming besoek nie.