
Gerhard Vermaak, Modimolle, skryf:
Enkele straatligte is sowat ’n jaar en ’n half gelede in Bosveldsig Fase 7, waar ek woon, opgerig.
Van die straatligte kon glo nie herstel word nie omdat die fout nie opgespoor kon word nie.
Die span wat hier gewerk het, het nie die werk afgehandel nie, maar belowe hulle kom terug. Ons wag nou nog.
Een van ons fase se bestuurslede, Ria Prins, het baie moeite gedoen om die probleem op te los. Sy het talle navrae gerig en selfs gery om die betrokke amptenare te gaan sien, maar daar word telkens net aan ons gesê dat die saak “aandag geniet”.
Die huidige krag- en watersituasie is geen goeie advertensie vir ons dorp nie. Die uiters onbevoegde Eskom moet nou in die bek geruk word oor hul swak diens.
Hoewel daar snags straatligte in ons fase brand, is daar tog donker kolle waar boosdoeners maklik kan wegkruip.
Die munisipaliteit of Eskom moet nou vir die gemeenskap sê of hulle ons en ander se kragprobleme gaan oplos of nie. Ek verwag ’n openbare antwoord op my brief.