Wouter Wessels, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: Openbare ondernemings, skryf:
Die feit dat Eskom munisipaliteite aanraai om nou reeds hul skedules aan te pas om voorsiening te maak vir moontlike fase 8-beurtkrag, voorspel niks goeds vir Suid-Afrika se ekonomie én vir 2020 nie.
Dit is onaanvaarbaar dat daar nie meer gedoen word om algehele onderbrekings van tot 12 uur lank te verhinder nie. Geen ekonomie kan groei terwyl beurtkrag toegepas word wat sakeondernemings, fabrieke en myne ernstig benadeel nie.
Indien die situasie voortduur, sal dit onvermydelik lei tot die algehele verswakking van die ekonomie en ’n verlies aan werkgeleenthede. Om hierdie redes raak dringende ingryping nou van die allergrootste belang.
Pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners wel gevra om geduldig te wees terwyl Eskom op die herstelpad geplaas word, maar die wêreldekonomie en die hoë werkloosheidkoers in Suid-Afrika is nie geduldig nie. Groter werkloosheid kan die land se ekonomie heeltemal vernietig.
Kundiges meen dit kan so lank as vyf jaar duur om Eskom ten volle te herstel en die moontlikheid van beurtkrag te voorkom.
Die VF Plus is van mening dat daar oor die korttermyn veel meer gedoen moet word om die situasie te beredder. Onnodige kostes sal op verskeie vlakke gesny moet word om Eskom se skuld van R450 miljard te delg.
Intussen sal die gebruik van alternatiewe kragbronne met erns benader moet word om die agtste fase van beurtkrag te vermy.
Eskom het in Desember herstelwerk by baie munisipaliteite gedoen en dit is ’n positiewe verwikkeling. Alles moontlik moet nou verder gedoen word om faktore wat lei tot verlaagde kragopwekking en beurtkrag, te voorkom. Instandhouding moet voorkeur geniet. Dit bly skokkend dat die ANC oor jare gestaan en toekyk het hoe Eskom in duie stort.