
Tammy Breedt, Vryheidsfront Plus (VF Plus)-LP en nasionale jeugleier, skryf:
Die hoë universiteitsuitvalsyfer en werkloosheidskoers onder die jeug in Suid-Afrika genoodsaak ’n klemverskuiwing weg van ’n blote matriekslaagsyfer, na een waar indringend gekyk moet word of leerders voldoende voorberei word vir die werkplek en tersiêre onderrig.
Die uitvalsyfer van studente aan universiteite is sowat 40% en slegs 22% van studente voltooi ’n driejaargraad. Werkloosheid onder die jeug is ’n nasionale krisis met 58% van die jeug wat tans werkloos is.
Dit is onrusbarend dat sowat 140 000 matriekleerders nie universiteits- of diplomavrystelling kon behaal nie en net-net deur is. Dit is egter positief dat die hoeveelheid leerders met universiteitvrystelling sedert 2018 met 8% gestyg het.
Slegs 42% (409 906) van alle leerders wat in 2008 met gr.1 begin het, het in 2019 matriek geslaag. Dit beteken dat 566 060 leerders nie gr.12 geslaag het nie.
Die ANC-regering gebruik die matriekslaagsyfer as ’n rookskerm vir hierdie tekortkominge en die werklikheid van die uitvalsyfer. Die maatstaf van onderwys behoort nie ’n kunsmatige slaagsyfer te wees nie, maar moet gehalteonderwys en die deurvloeisyfer van leerders op skool in ag neem.
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het al in die verlede onderneem om ander maatstawwe te gebruik en om wyer statistieke rondom die uitslae te verskaf. Die maatstaf van sukses van die onderwysstelsel behoort die indiensneming en gereedheid vir tersiêre onderwys van skoolverlaters te wees en nie hoeveel leerders die minimumvereistes kon bereik nie.
Die hoë werkloosheidskoers onder die jeug en die hoë uitvalsyfers van skoolleerders en universiteitstudente bewys dat die onderwysstelsel leerders faal deur hulle nie voor te berei vir die werkplek of voortgesette studie nie.
Die tekort aan die ontwikkeling van kritiese denkvermoë en vaardighede van skoolverlaters maak dit byna onmoontlik vir skoolverlaters sonder verdere kwalifikasie om die arbeidsmag te betree aangesien die fokus verskuif het na slegs voorbereiding om ’n matrieksertifikaat te behaal.
Die VF Plus wens leerders en toegewyde onderwysers geluk wat ten spyte van moeilike omstandighede en talle uitdagings goed presteer het en ’n positiewe verskil gemaak het.