
Vonnie Slabbert, Mookgophong, skryf:
In die meer as 12 jaar dat ek in Mookgophong woon, het ek nog geen verkeersbeampte gesien nie — ook nie ’n spoedlokval nie.
Hierdie probleme is reeds talle kere skriftelik by die die hoof van die verkeersdepartement aangemeld.
Motoriste en taxi’s jaag soggens vroeg en saans laat oor die vierrigtingstop by die ingang van Gholfpark. Dit is vir my ’n ernstige saak en ek sal voortgaan om antwoorde te soek. Ek moet dit eintlik nie sê nie, maar ons bly in ’n wettelose Moogkophong.
My pleidooi aan verkeersbeamptes is: as julle hoegenaamd vir jul burgers omgee, gee asseblief aandag aan die onbeteuelde gejaag in ons straat.
Of is dit makliker om geldjies elders in te samel?
- Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het by navraag geantwoord: “Mookgophong het aanvanklik agt verkeersbeamptes gehad. Hul take het onder meer die uitreiking van verkeerslisensies en die stel van spoedlokvalle ingesluit. Nadat die departement van vervoer in 2017 ’n ondersoek na moontlike korrupte bedrywighede by die verkeerskantore geloods het, is een persoon in hegtenis geneem en twee het bedank. Nog een van die beamptes is oorlede. Dit beteken dat ons nou net vier verkeersbeamptes het wat al die take in Mookgophong moet hanteer. Die vier beamptes sluit Arrie Opperman, die hoof van verkeer, in. Hul werkslading is baie hoog.
“Die munisipaliteit kan nie nog personeel aanstel voordat die verslag oor personeelplasings deur die raad aanvaar is nie. Ons het in Oktober uiteindelik die verslag hieroor van die ouditeure ontvang en dit dien in Januarie voor die raad.
“Om die druk van die personeel af te haal sal die munisipaliteit ’n verkeersbestuurstelsel implementeer. Dit sluit verkeerskameras in al die dorpe in. Die oprigting daarvan begin reeds in Februarie nadat ons opname oor waar die strukture opgerig moet word, afgehandel is. Van die spoedkameras sal kan rondskuif,” het sy gesê.