Vanessa van Tonder, Thaba Indle, Bela-Bela, skryf:
Ek en twee van my vriendinne (onderskeidelik 64 en 75 jaar oud) het op Saterdagoggend 1 Februarie ons eerste parkrun, ’n 5 km-staptog, by Koro Creek buite Modimolle bygewoon.
Dit was ’n fantastiese ondervinding. Die geleentheid word gratis by die Koro Creek-gholfbaan aangebied. Ons het aanlyn geregistreer en ’n strepieskode ontvang en daarmee was alles gereed vir ons avontuur in die pragtige natuurskoon.
Baie geluk aan Koro Creek, die parkrunorganiseerders en die talle vrywilligers wat ons dag baie spesiaal gemaak het.
Komaan Bosvelders, hier is ’n uitdaging: Trek aan jou tekkies en kom deel saam in die samesyn en goeie gesondheid wat hierdie inisiatief bevorder. Jy kan draf of stap binne jou eie vermoë, maar wees deel van dié wonderlike inisiatief.