Wiets Botes, voorsitter: Waterberg-sakekamer, skryf:
In Die Pos van Vrydag 28 Augustus 2020 was daar ’n vraag in die Ons Hoor-kolom van ’n ontevrede inwoner wat by die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit wou weet: “Wat is die waarheid?”
Hierdie vraag was toevallig ook die hooftema van die Waterberg-sakekamer se eerste ledevergadering sedert die begin van die inperking.
Die vergadering is op Donderdag 26 Augustus gehou en sekere kernpunte is tydens die vergadering uitgelig. Waarom kry die sakekamer geen terugvoer op enige voorleggings wat vir die 2020/21-begroting aan die munisipaliteit gedoen is nie?
So byvoorbeeld het die sakekamer in Maart vanjaar breedvoerige voorstelle gemaak oor die wysiging van die 2019/20-eiendomsbelastingbeleid vir die 2020/21-begroting. Die sakekamer was van mening dat die 2019/20-beleid ’n “spoeg-en-plak-” produk was wat selfs na ’n beleid van die “Bushbuckridge Munisipaliteit” verwys.
Helaas verwys die 2020/21 “hersiene” beleid steeds na die “Bushbuckridge Munisipaliteit” wat aandui dat daar net geen aandag aan die sakekamer se voorlegging gegee is nie.
Die voorgenome implementering van ’n “tyd-van-verbruik-” model vir die hef van elektrisiteitstariewe, is reeds holrug gery en die sakekamer het by herhaling aangedui dat hy geen beginselbeswaar teen so ’n beleid het nie.
Ons meen egter dat die tariefbeleid van die munisipaliteit eers ná oorleg met die gemeenskap gewysig moet word sodat die “reëls en beginsels” van die model bepaal kan word wat die logiese doel van elke beleid is.
Ten spyte van verskeie versoeke om aan so ’n proses deel te neem, wat in terme van wetgewing vereis word, word geen terugvoer ontvang nie.
Die munisipaliteit se aangestelde kontrakteur wat na die elektrisiteitsinfrastruktuur, -rekeninge en –invorderings omsien, naamlik EMS, het bevestig dat Eskom ’n boetestelsel teen die munisipaliteit ingestel het weens die uitstaande Eskomskuld en die nie-nakoming van sekere betaalreëlings.
Een van hierdie boeteklousules is die verlaging van die maksimumkragtoevoer, wat veroorsaak dat die munisipaliteit sukkel om die kragtoevoer ná ’n beurtkragskedule te herstel omdat die aanvraag dan die aanbod in lading oorskry.
Hierdie feit word ten sterkste deur die raad ontken en die gemeenskap word in die duister gelaat oor wat die waarheid is. ’n Verdere bron van kommer is dat daar onlangs blykbaar ongeveer R60 miljoen uit die “elektrisiteitsrekening” wat vir betalings aan Eskom bedoel was, deur die munisipaliteit onttrek is om ander lopende uitgawes te dek terwyl die munisipaliteit reeds onder druk is om sy betalingsooreenkomste met Eskom na te kom. Daar is tydens die begrotingsproses op Donderdag 26 Maart ’n konsepbegroting gepubliseer.
In dieselfde tyd is ’n aparte tariefdokument gepubliseer waarvan die elektrisiteitstariewe in die tariefdokument wesenlik van die tariewe in die konsepbegroting verskil het. ’n Finale begroting is op Vrydag 29 Mei goedgekeur wat geen “tyd-van verbruik-” model ingesluit het nie. ’n Mediaverklaring is uitgereik waarin die gemeenskap onder meer meegedeel is dat die munisipaliteit ’n “geloofwaardige en ten volle gefinansierde begroting” aanvaar het.
Daar is weer op Vrydag 26 Junie ’n finale begroting aanvaar wat ’n “tyd-van-verbruik-” model ingesluit het en wesenlik van die finale begroting van 29 Mei verskil het. Dit is ook onduidelik waarom ’n nuwe finale begroting in Junie vanjaar deur die raad aanvaar is as die finale begroting van Mei reeds ’n “ten volle gefinansierde begroting” was. Die sakekamer se navrae om hierdie twee verskillende finale begrotings te verduidelik, bly onbeantwoord.
Laastens word die gemeenskap gereeld daaraan herinner dat die uitstaande Eskomskuld ’n reuseprobleem is wat “histories” voor die samesmelting van Modimolle en Mookgophong in 2016 geërf is en steeds ’n uitdaging vir die munisipaliteit is.
Wat nie aan die gemeenskap gemeld word nie, is dat die uitstaande Eskomskuld tans ongeveer R500 miljoen plus beloop terwyl die uitstaande skuld van die voormalige Modimolle- en Mookgophong-munisipaliteite saam ongeveer R150 miljoen tot voor die samesmelting in Augustus 2016 beloop het.
Die eskalasie van ongeveer R350 miljoen is dus nie alleen aan die historiese skuld te wyte nie.
Die sakekamer het geen twyfel daaroor dat die huidige raad sedert 2016 ontsettende harde werk ingesit het om Modimolle/Mookgophong weer tot ’n behoorlik funksionele munisipaliteit te probeer omkeer nie.
Om hierdie feit te probeer ontken, sal uiters onredelik en selfs oneerlik wees. Daar was tot in 2018 noue samewerking tussen die raad en die sakekamer en daar was goeie suksesverhale, soos byvoorbeeld om te keer dat Eskom verpligte beurtkrag instel wat erge nadelige gevolge vir albei dorpe sou inhou.
Ons kommer is egter dat pogings van die sakekamer om positiewe bydraes te lewer sedert middel-2019 skynbaar geïgnoreer word terwyl belangrike inligting van die sakekamer en gemeenskap weerhou word. Dit is tot die sakekamer se spyt nou die enigste uitweg om die raad in die openbaar vir antwoorde te vra.
In dié verband stem ons saam met die ontevrede inwoner: Wat is die waarheid?