LettersOpinion

ANC-regering ‘onbevoeg’ om Ters-noodfonds te bestuur

Die regering probeer om die skuld af te skuif na ander, soos dat oneerlike werkgewers nie die Ters-geld aan werkers oorbetaal het nie.

Heloïse Denner, Vryheidsfront-Plus, lid van parlement en hoofwoordvoerder: Arbeid, skryf:

Nie eens ’n goeie en welmenende plan soos die werkloosheidsversekering (WVF) se Ters-noodfonds het enige kans op sukses wanneer dit uitgevoer moet word deur ’n regering waar swak uitvoering, swakker administrasie en ’n afwesigheid van oorsig en verantwoording die norm geword het nie.

Die fonds het wel ’n bedrag van R50 miljoen aan werkers uitbetaal, maar daar is te veel gevalle waar mense in nood in die steek gelaat is.

Dit is onverstaanbaar en die regering sal moet verduidelik hoe dit gebeur het. Die regering probeer om die skuld af te skuif na ander, soos dat oneerlike werkgewers nie die Ters-geld aan werkers oorbetaal het nie.

Daar was wel sulke gevalle, maar die probleem en die agterstand in betalings is veel groter en moet so gou moontlik reggestel word.

Die VF-Plus het kennis geneem van die skorsing van die bestuurslede van die WVF. Meer moet gedoen word om ongerymdhede bloot te lê en die skuldiges te vervolg.

Hoewel die Ters-fonds miljarde uitbetaal het, blyk dit dat gewone WVF-eise in die proses agterweë gelaat is. Die VF-Plus het reeds baie klagtes ontvang van mense wat nie kraamvoordele, pensioen- of WVF-betalings weens afleggings ontvang het nie en steeds nie geholpe kan raak nie.

Die Ters-telefoonhulplyn was ook grootliks nutteloos omdat die nommer meestal nie beantwoord is nie of geen operateur hulp kon bied aan desperate werkers wat geskakel het nie.

Die wonderlikste plan is net so goed soos die uitvoering daarvan en wat die Ters-inisiatief betref, het die plan misluk weens die onbevoegdheid van die WVF, die departement van arbeid en die ANC-regering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button