Gawie Richter, Modimolle, skryf:
Wanneer laas het u die besonderhede op u begrafnispolis nagegaan?
Tot my skok en verbasing moes ek vasstel dat my polis wat op 31/3/2021 opbetaal moes wees, die opbetaaldatum as 31/3/2101 aangedui word. Dus oor 80 jaar.
Begrafnispolisse is gewoonlik in die naam van die egpaar. Gestel een sou sterf, gaan die polis aan op die naam van die oorlewende.
Indien hierdie persoon versuim om ’n begunstigde op die kontrak te benoem, sal die polis nie outomaties aan die boedel van die afgestorwenes uitbetaal word nie. Dit het pas met ’n inwoner van Bosveldsig-aftreeoord gebeur.
Omdat die koste van begrafnisondernemers verskil, word dit dikwels tydens ’n tyd van hartseer en rou uitgebuit.
Volgens inligting word daar soms vals of onuitvoerbare beloftes gemaak en rekeninge “gelaai” om die algehele polis op te slurp.
Bejaardes, om u naasbestaandes moeite en ongerief te spaar, word u aangeraai om uit vrye wil u eie keuse te maak en die naam en telefoonnommer van u begrafnisondernemer beskikbaar te hou.