Daleen Steynberg, Bela-Bela, skryf:
Daar bestaan by my geen twyfel dat die Bela-Bela-munisipaliteit se argelose houding jeens dienslewering vir inwoners net so ’n groot uitdaging soos die Covid-19-pandemie was nie.
Daar is in Roodepoort-, Noodhulp- en Bospoort-omgewings alleen altesame 237 klagtes oor waterlekkasies en rioolverstoppings en 325 klagtes oor kragonderbrekings ontvang.
Ek dink werklik dat ons geduld nou beproef word. Inwoners is desperaat en begin al hoe meer praat oor die moontlikheid om belasting te weerhou.
Niemand behalwe die munispale amptenare sal vir so ’n besluit geblameer kan word nie. Die munisipale bestuur se nalatigheid, agterlosigheid, luiheid en traak-my-nie-agtige-houding is verregaande.
Ons eens pragtige dorp word in die grond in bestuur. Dit is onaanvaarbaar dat korrupte amptenare nie in hegtenis geneem word nie. Kry hulle doodeenvoudig ’n oorplasing na ’n ander departement of munisipaliteit soos voorheen gebeur het?
Baie beloftes word gemaak tydens vergaderings met amptenare, maar daar word nie oplossings gevind nie. Moet ons intussen betaal vir dienste wat ons nie ontvang nie? Niemand kan die stank langs die R101-pad langer hanteer nie. Die riool vloei kilometers ver langs die toegangsroete tot ons dorp wat hoofsaaklik van toeriste afhanklik is.
Wat moet die vakansiegangers van ons dorp dink? Hoe bestee ’n mens tyd en geld waar die onaangename reuke jou verdryf? Ek verneem dit gaan miljoen rande kos om die dorp se rioolaanleg op te gradeer.
Die vraag is: Hoekom wag totdat alles verval? Hoekom is daar nie gereeld instandhouding aan die infrastruktuur gedoen nie? Dit is mos nie ’n probleem wat verlede week ontstaan het nie? Die dorp se algemene instandhouding is pateties en die munisipale bestuur beloof al baie lank dat daar ’n stoor met voldoende onderdele sal wees sodat foute dadelik herstel kan word. Het die stoor met die onderdele weggeraak? My en baie inwoners se klagtes val sedert 2014 op dowe ore.
Daar was min, indien enige verbetering in dienslewering. Wat moet ons nog doen? Die swak diens aanvaar? Gee tog asseblief raad.