LettersOpinion

Brief: Plaaslewe hou voete vuil en siel skoon

Ware luuksheid is varkvet op tuisgebakte brood, gemmerkoekies gemaak met plaasbotter, bottels tuisgemaakte konfyt en adamsoesies in die spens.

Mariska Greyling, Modimolle, skryf:

Die luuksheid van die plaaslewe is soveel meer as net die ooptes en ’n sonbruin vel.

Daar is die skoon reuk van nat grond, met kaalvoete in modderpoele en in warm kuilvoer speel, die genot van jou groentetuin se eerste oes, die reuk van beskuit in die oond en die gekwetter van wilde voëls wat ons vroegoggend begroet.

Die luuksheid van ’n oop dagboek beteken daar is tyd vir onverwagse lekkernye soos wanneer my oupa uit die bloute opdaag met vars vye wat dadelik verwerk moet word vir konfyt.

Dit is ’n luukse om vir ’n hele week nie dorp toe te gaan nie, want ek kan self brood bak met tuisgemaakte plaasbotter en onbeperkte vars plaasmelk en room.

Om laatnag op die stoep te sit en luister na die beeste, jakkalse, groot-ooruile, paddakore en die Piet-my-vrou (wat blykbaar nooit slaap nie) is my idee van luuksheid.

Op die plaas leer ons vinnig dat ware luukshede nie in winkels gekoop kan word nie. Dit word nie toegedraai in goud of silwer papier nie en is nie te vinde in boetiekhotelle nie.

Ware luuksheid is varkvet op tuisgebakte brood, gemmerkoekies gemaak met plaasbotter, bottels tuisgemaakte konfyt en adamsoesies in die spens.

Maar die grootste luuksheid is tyd. Tyd om te doen net waarvoor jy lus is.

Die plaaslewe hou jou voete vuil en jou siel skoon.

Related Articles

Back to top button