Brief: VF Plus vra president om wetswysigings op kopiereg na Grondwethof te verwys
Enige verbruiker kan inhoud wat normaalweg aan outeursreg onderwerp is, sal gebruik sonder goedkeuring.

Jaco Mulder, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: Handel, nywerheid en mededinging, skryf:
Die Nasionale Vergadering (NV) het gister die skrywers, ouditeurs en kreatiewe bedryf van Suid-Afrika in die steek gelaat toe die ANC-meerderheid die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg (WOO) goedgekeur het.
Die VF Plus het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om nie die wet te onderteken nie, maar dit eerder na die Grondwethof te verwys vanweë die ongrondwetlike aard daarvan.
Ramaphosa het in 2020 die WOO na die parlement terugverwys omdat talle bepalings daarin ooglopend ongrondwetlik was.
Die parlementere portefeuljekomitee oor handel, nywerheid en mededinging het intussen die wetsontwerp hersien waarna dit na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwys is en weer terug na die portefeuljekomitee vir goedkeuring voor die NV op Maandag 4 Maart.
Ten spyte van die VF Plus se besware, het die portefeuljekomitee nie aan die kwessies aandag gegee wat die president uitgewys het nie. Daar is nou selfs meer grondwetlike krisisse geskep.
Die NV het die insette en pleidooie van talle skrywers, outeurs en uitgewers geïgnoreer en hulle met die aanvaarding van die wetswysiging uitgelewer aan verbruikers van regoor die wêreld wat sal kan munt slaan uit die skeppings van die plaaslike kreatiewe bedryf sonder vergoeding.
Boeke en ander publikasies sal sonder vergoeding verskaf en uitgedeel kan word aan outeurs, uitgewers, musikante en musiekskrywers en hul musiek sal gebruik kan word in reklame en films sonder vergoeding onder die beginsel van “Fair Use”.
Dit bring mee dat enige verbruiker inhoud wat normaalweg aan outeursreg onderwerp is, sal kan gebruik sonder goedkeuring.
Suid-Afrikaans kunstenaars is na dese meer blootgestel as hul eweknieë in die res van die wêreld. Die departement van handel, nywerheid en mededinging het verder nagelaat om ’n ekonomiese impakstudie te doen voordat die wetswysiging oorweeg is.
Swak wetgewing verswak die Suid-Afrikaanse ekonomie en ontmoedig beleggers om in ’n land te belê waar kopiereg nie beskerm word nie.
Die VF Plus verbind hom vir die regstel van irrasionele wetgewing ná die 2024-verkiesing.