Letters

Brief: Jaagduiwels en stoptekens

Wet is wet en dit moet mos gehoorsaam word.

Gawie Richter, inwoner van Modimolle, skryf:

Ek skryf met verwysing na “Ons Hoor” in Die Pos van 5 April, waar iemand kla oor jaagduiwels en stopstraat-oortreders. Ek wil graag reageer.

Jaagduiwels en stopstraat-oortreders is soms van jou beste en mees versigtige bestuurders. Nie dat dit goedgepraat word nie. Maar onbevoegde, roekelose, dronk en nalatige bestuurders, is ’n ernstige gevaar op die pad. Die gevaarlikste is bestuurders met stywe nekke, tonnelvisie en wat aan die regterkant van die pad op die witlyn aankruie asof hy of sy besig is om die tydelike met die ewige te verwissel. Pleks van links te hou soos die wet sê en verkeer van agter ’n kans te gun om verby te gaan, word verkeersvloei opsetlik vertraag.

Noodlottige ongelukke vind gereeld plaas waar motoriste, sonder inagneming van aankomende verkeer, van agter, by groot voertuie wil verbysteek.

As gevolg van misdaad, verwyl min motoriste tyd by stoptekens, veral as boewe jou daar inwag. Ek praat uit ondervinding van toe ek beroof is terwyl ek by ’n robot gewag het vir die groenlig.

Maar wet is wet en dit moet mos gehoorsaam word.

In Zimbabwe maak wetstoepassers fortuine uit omkoopgeld as hulle jou beskuldig dat jy nie gestop en tot vyf getel het voordat jy die kruising oorgesteek het nie. Om te voorkom dat hy jou onwettig of valslik toesluit, gaan dit jou minstens R1000 uit die sak jaag. In ons land is die prys darem effe minder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button