Vanjaar se Bokkieweek skop feestelik af
Die Bokkieweek is elke jaar dié tyd ’n hoogtepunt op verskeie skole se wintersport-kalenders.

Sowat 8 000 mense het die aanskoulike opening in die stadion op Maandag 2 Julie bygewoon. Altesame 3 380 leerders uit 15 unies ding vanjaar teen mekaar in rugby, netbal, hokkie en redenaars mee.
Wynand Gravett, voorsitter van Hoërskool Hans Strijdom se beheerliggaam, het die gaste namens die Hansies verwelkom.
Die Bokkieweek is ’n sport- en kultuurweek wat 27 jaar gelede vir die eerste keer aangebied is. Die week is destyds ook op die sportvelde van Hans Strijdom aangebied.
Die spanne van elke unie het die optog meegemaak en op die rugbyveld gaan sit om na die opening te luister. Ds. Jan Claassen van die Nederduitse Hervormde Kerk in Mookgophong, het met skriflesing en gebed geopen.
Bennie Genis, president van die Verre-Noord-unie het as gasheer almal verwelkom. Genis is ’n bekende inwoner van Mookgophong en was saam met Mauritz Hansen, oudskoolhoof van Hans Strijdom, deel van die eerste Bokkieweek.
“Mag julle ’n ervaring hê wat julle nooit sal vergeet nie,” het Donnie Reitz, president van die Afrikaner Volkseie Sportorganisasie (AVS), in sy openingstoespraak aan die deelnemers gesê.
Hy het voorts gesê die Bokkieweek bied ’n geleentheid aan Afrikaner Christenkinders om aan sport en kultuur deel te neem. Reitz het gesê dit wat die deelnemers hierdie week leer, moet gebruik word om verhoudings in die land te verbeter en van die land ’n beter plek te maak.
Hy het ook aan hulle gesê om te kyk of hulle rolmodelle aan die volgende vereistes voldoen om as ’n held geag te word: minsaamheid, ’n goeie luisteraar, eerlik, liefdevol, bedagsaam, vasberade, ’n goeie sin vir humor, optimisties, gee vir ander om en ’n opregte Christen. “Streef dié eienskappe na om ook in julle huise en omgewings rolmodelle te word,” het hy afgesluit.
Die gewilde sanger Brendan Peyper het as gaskunstenaar opgetree en die skare vermaak. Die spanne van Verre-Noord en Wes-Transvaal het in die openingswedstryd gespeel. Verre Noord se span het die wedstryd gemaklik met 38-5 gewen.