Nylstroom-rugbyklub kraai koning
Die spanning was op Vrydagaand 12 Julie tasbaar toe die spanne van die Nylstroom- en Rhino-rugbyklub van Northam mekaar die stryd aangesê het op Hoërskool Nylstroom in Modimolle se veld.

Die meer as 500 toeskouers wat die finale kragmeting in die Waterberg-rugbyliga bygewoon het, was kort-kort op hul voete en het hul onderskeie spanne luidkeels ondersteun. Albei spanne het gereeld punte op die telbord gesit.
Nylstroom het die wedstryd teen Northam egter oortuigend met 20-15 gewen.
“Dit was ’n baie taai wedstryd. Ons het ons kanse verspeel met die skepdoele wat ons verbrou het, maar die span se verdediging was puik,” het Jannie Venter, Nylstroom-afrigter en klubpresident, by navraag gesê.
Marc van Bosch, Nylstroom-voorspeler, is uitgesonder vir deurgaanse puik spel. Justin Odendaal, agterspeler, het hom ook baie goed van sy taak gekwyt en die Northam-manne lelik laat bontstaan.
Venter het gesê hy wil graag die klub se bestuur en vir Armand Oeschger, hulpafrigter, bedank vir hul harde werk gedurende die seisoen.
“Dankie ook aan die spelers vir hul pligsgetrouheid, durf en vertroue in my.”
Venter het ook die ondersteuners, borge en vir Riaan Frey van Modimolle, wat as skeidsregter opgetree het, bedank.