Die tyd is naby vir ’n nasionale kampioen uit Limpopo
Die vuiste swaai en die sweet tap vier jong boksers van Modimolle af waar hulle hard aan die werk is voor hul groot gevegte wat op nasionale televisie uitgesaai sal word.

Ntsako Miyambo (25) is ’n plaaslike middelgewigbokser wat op Sondag 4 Augustus in sy eerste professionele boksgeveg in die kryt saam met Chris Gouws sal ronddans in ’n BMT Promotions-geveg in die Benoni-saal.
Nog twee boksers van Obie’s Boxing and Fitness Gym by Hoërskool Nylstroom is deur bokspromotors Golden Gloves genooi om in die kryt te wys wat in hulle steek. Die boksers word afgerig deur Peet Oberholzer.
Ramsey Hlongwane (27) kom ook op Vrydag 23 Augustus by Emperor’s Palace in sy eerste groot geveg in die weltergewigafdeling te staan teen Darrin Rossouw. Sy oefenmaat, Lopez Maluleke (25), meet dieselfde aand kragte in die junior liggewigafdeling teen Cayden Truter. Truter word afgerig deur Harry Volbrecht, ’n voormalige wêreldkampioen, het Oberholzer gesê. Dit is albei boksers se eerste professionele gevegte en dit sal op Supersport uitgesaai word.
Karabo Mokupi (21), belowende bokser van Phagameng wat ook deur Oberholzer afgerig word, is in Februarie in die vierde ronde deur die ervare Kongolees, Augustin “Big Ben” Matata (28), uitgeslaan.
“Karabo het ’n paar waardevolle lesse geleer en is reg om weer sy man in die kryt te staan,” het Oberholzer gesê.
Mokupi kom moontlik op Vrydag 30 Augustus teen Wade Groth, tweede gekeurde middelgewigbokser te staan. Groth het uit sy nege gevegte nog net twee verloor. Mokupi het twee van sy vier professionele gevegte gewen.
Volgens Oberholzer is die prysgeld vir beginnergevegte slegs R5 000, maar suksesvolle boksers se prysgeld styg vinnig. Die Suid-Afrikaanse titelgeveg is R150 000 werd.
“Die prysgeld is aanvanklik baie laag en boksers moet heelwat meer as dit insit om op die vlak te kom waar prysgeld lonend is. Jong boksers het die hulp van borge nodig om bo uit te kom,” het Oberholzer gesê. “Ons is baie dankbaar vir ons borge. Sonder hulle hulp sou dié boksers nie al hul tyd en energie aan hul sport kon afstaan nie.”
“Ek glo dat hier ’n bokskampioen uit Limpopo kan kom. Ons is naby aan daardie doelwit.”