Groot aand wag op kranige boksers uit Modimolle
Die boksers in Modimolle draai die skroewe styf aan voor die uitdagende Razor Sharp-bokstoernooi waarin hul eersdaags by Emperor’s Palace kragte meet.

Die toernooi, gereël deur die bokspromotors Golden Gloves, lok groot name soos Roarke Knapp van Suid-Afrika teen Alexandr Zhuravskiy van Kazakstan wat 10 rondes gaan dans in ’n internasionale junior middelgewiggeveg. In die hoofgeveg pak Rowan Campbell en Patrick Mukala mekaar vir 12 rondes om die internasionale boksorganisasie se supermiddelgewig Afrika-titel.
Tydens die toernooi kom Modimolle se Ramsey Hlongwane (27) in sy eerste groot geveg te staan teen Darrin Rossouw in die weltergewig-afdeling. Lopez Maluleke (25), wat ook soos Hlongwane deur Peet Oberholzer afgerig word, meet dieselfde aand kragte in die junior liggewigafdeling teen Cayden Truter.

Die 21-jarige Karabo Mokupi van Phagameng is op kort kennisgewing ingetrek om teen die gerekende Luvyo Sizani in die ligswaargewig-afdeling te boks. Sizani het Suid-Afrika in die verlede as amateurbokser by die Statebondspele verteenwoordig. Indien Mokupi dié geveg wen, kom hy moontlik in Oktober teen die gevaarlike Cowin Ray te staan wat reeds vyf uitklophoue agter sy naam het en 16de gekeur is.
Ntsako Miyambo (25), wat saam met die boksers afgerig word, sal ook in Oktober te staan kom teen Didi Pretorius.
“Dit is groot gevegte vir dié jong boksers. Ons werk baie hard daaraan om hul koppe en lywe reg te kry — boks is grootliks ook ’n sielkundige sport,” het Oberholzer aan Die Pos gesê.
Oberholzer het onlangs ’n baie intensiewe oefenkamp saam met die vier boksers gehad ter voorbereiding. “Ons werk hard aan vaardighede soos hul kopbewegings. Ons het van die koppies buite die dorp gaan uithardloop om hul stamina te verbeter,” het hy gesê.
“Die boksers sit hul lewens op die spel in die bokskryt. As jy daar staan moet jy 100% reg wees, want jou teenstander gaan sy beste gee om jou kop van jou lyf af te probeer haal. As jy moeg is, voel daardie handskoene soos tien pond hamers wat aan jou arms hang. Die manne oefen baie hard en ons hoop hulle gaan die vrugte daarvan pluk.”
Die Razor Sharp-bokstoernooi se gevegte word regstreeks op Supersport 8 uitgesaai vanaf 19:30.
“Baie dankie aan die ondernemings wat die boksers borg sodat ons op al groter verhoë kan deelneem. Ons nooi die gemeenskap om na die gevegte te kom kyk by Emperor’s Palace. Boks is ’n fantastiese kyksport,” het Oberholzer gesê.