Vuiste swaai weer dié naweek
Twee boksers van Modimolle maak reg vir groot gevegte op Vrydag 4 Oktober by Malamulele-boksklub.
Die jong Karabo Mokupi kom te staan teen Bockson Bukasa in ’n geveg van agt rondes. Volgens sy afrigter, Peet Oberholzer, staan Mokupi ’n kans om vir die Suid-Afrikaanse titel te mik indien hy hierdie geveg wen. Dit sal ’n droom wees wat verwesenlik word.
Ntsako Miyambo kom te staan teen Don Juan van Heerden in ’n vier ronde-geveg. Miyambo se vorige geveg het gelykop geëindig ná ’n omstrede beslissing deur die skeidsregter. “Ons hoop hy wen Vrydag,” het Oberholzer gesê.
Albei boksers neem in die middelgewig-afdeling deel. Die boksers het ’n harde oefenkamp bygewoon om hulle te slyp vir die gevegte wat voorlê. Hulle oefen by Obie’s Gym and Fitness by Hoërskool Nylstroom.
Mokupi en Miyambo se inweeg vind op Donderdag 3 Oktober plaas. Die geveg sal direk uitgesaai word op Supersport 8.
“Ons bedank al hul ondersteuners vir hul aanmoediging,” het Oberholzer gesê.