Bekende sportafrigter se duiwe vlieg fluks
Om met duiwe te boer en aan wedvlugte deel te neem is ’n bietjie soos om gholf te speel — een dag is ’n mens nog voor en net die volgende dag moet jy weer van agter af probeer inhaal.
Só vertel Van Reenen Cloete, bekende sportafrigter en ywerige wedvlugdeelnemer van Bela-Bela nadat hy as uniekampioen van die Sentraal Limpopo Duiwe-unie se wedvlugkompetisie gekroon is.
Hy het agt jaar gelede ook dié titel gewen.
Die kompetisie het in Mei 2018 begin en oor 18 maande gestrek. Duiwe het van verskeie plekke in die land in ’n ’n naelbytstryd meegeding.
Die punteverskil in die topposisie ná elke wedvlug het maar tussen vyf en tien punte gewissel.
Cloete het ’n sug van verligting geslaak toe hy tydens die finale kompetisie in Virginia met 7 725 punte gewen het. Dit was tien punte meer as sy mededinger, Pieter Bekker, se 7 715-punte.
Pieter Bothma was derde met 7 710, gevolg deur Jurie Schoeman met 7 703 punte nadat al hul duiwe geklok is.
Cloete het slegs 30 wedvlugduiwe gehad wat teen honderde duiwe van ander duiweboere deelgeneem het.
“Ek het op vyfjarige ouderdom saam met my oupa, Piet Taljaard (95), by duiwesport betrokke geraak. Hierdie keer was dit egter anders om as wenner gekroon te word, want my oupa is ’n maand gelede by die Warmbad Rusoord oorlede. Dit was hy wat my alles van dié sport geleer het en as klein seuntjie geesdriftig gemaak het oor die fynere kunsies van dié boerdery. My oupa was die dryfkrag agter ons boerdery,” het Cloete gesê.
Die meeste van sy duiwe is oor 25 jaar geteel met die hulp van bekende plaaslike duiweboer, Frank Ferreira van One Sol Loft buite die dorp.
Cloete het gesê Ferreira se kundigheid oor die hantering van wedvlugduiwe het ’n groot indruk op hom gemaak.
Elkeen van Cloete se duiwe het name en is vernoem na Vikings, ander krygsmanne of mense met ’n oorlogstitel.
Vir hom is die verhouding tussen eienaar en duif iets eiesoortigs.
“Mense moet besef as ’n duif in sy hok is, is jy sy baas. Wanneer hy in die lug is, is hy of sy jóú baas,” het hy gesê.
“Ek weet ek het nie die beste duiwe nie, maar ek weet hoe om met hulle te werk sodat hulle 200% kan gee wanneer ons deelneem. Ek was regtig verheug toe ek gewen het en ek dink die duiwe se dissipline tydens die kompetisie was puik,” het Cloete gesê.