Drie atlete ryg medaljes in
Drie meestersatlete het die afgelope week teruggekeer Bosveld toe met nie minder nie as 11 medaljes.

Die drie atlete, wat in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle woon, het op Vrydag 8 November en Saterdag 9 November aan die Vrystaatse meestersatletiekkampioenskap in Bloemfontein deelgeneem.
Babsie Grobler en Anette van Dyk het albei goue medaljes vir driekamp, gewigstoot, spiesgooi, werpskyf en gewiggooi verwerf. Grobler neem deel in die kategorie vir 75 tot 79 jaar en Van Dyk in die kategorie vir atlete van 60 tot 64 jaar. Ria Ludik, wat vir die eerste keer deelgeneem het, het haar staal gewys en ’n goue medalje in die kategorie vir 70- tot 74-jarige atlete verwerf en vier vierde plekke behaal.
Grobler en Van Dyk het in Mei vanjaar ook uitgeblink tydens die Suid-Afrikaanse meesterskampioenskap in Oudtshoorn. Van Dyk neem al jare lank aan meestersatletiek deel en het al 14 keer aan die Comrades-marathon deelgeneem en ses keer aan die Argus-fietsren. Sy het ook al die Midmar-myl en Potch-myl aangedurf.
Grobler het vantevore aan die wêreldkampioenskap vir lyndans in Amerika deelgeneem, asook aan meestersatletiek se naelloop.
“Ria het baie goed gevaar. Sy is baie gemotiveerd en het baie navorsing oor tegniek gedoen,” het Grobler gesê.
Die vroue oefen op Dinsdae en Donderdae in Bela-Bela en word deur die professionele afrigter Marna van der Merwe afgerig. “As dit nie vir Marna se hulp was nie, sou ons nie so goed gedoen het nie,” het Grobler gesê.