Klubrugbyspanne mag weer oefen
Die Suid-Afrikaanse rugby-unie (SARU) en die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) het uiteindelik die groen lig gegee dat amateurrugby weer hervat mag word.
Hoewel daar streng Covid-19-maatreëls getref word, mag wedstryde steeds nie gespeel word nie.
Die Kwagga-rugbyspan van Bela-Bela het op Maandag 2 November met die spanlede en bestuur ontmoet om oor die pad vorentoe te besin.
Drummond Hammond, klubvoorsitter, het aan Die Pos gesê ten spyte van die uitdagings wat Covid-19 meegebring het, bly Suid-Afrika ’n “rugbymal” nasie en spelers en toeskouers in Bela-Bela kan nie wag dat daar weer wedstryde gespeel word nie.
“Ons het baie planne en bly in gesprek met BBRU en met Hoërskool Warmbad sodat skolerugby en klubrugby mekaar kan ondersteun. Die hele gemeenskap, oud en jonk, moet daarby baat vind.”
Die klub se borge het reeds die toerusting en spandrag vir vanjaar voorsien en dit sal ook vir die 2021-seisoen geskik wees. Ons motiveer ons spanlede om vir die komende seisoen gereed te wees.
Hammond het gesê dit verg voorbereiding om jong spelers wat nou matrikuleer aan die nuwe formaat van harder klubrugby gewoond te maak. Dit is “hardebaarde” teen wie hulle moet uitdraf. Plaaslike klubs kan daarby baat om jong manne wat nie gaan studeer nie, te help.
“Ons klubbestuur het reeds met sakelui in gesprek getree om die jongmense in ons dorp te behou.” Die werkende jongmanne moet dan inskakel by die plaaslike rugbyklub, het Hammond gesê. “Binne ses jaar kan ons twee vol spanne hê. Ons kan ’n sewespan saamstel uit die manne wat op die reserwebank sit. Ons beoog om ook ’n sewestoernooi te begin.”
Hy het voorts gesê belangstelling onder jong spelers van die township groei en dat hierdie jongmanne gewerf moet word om konstruktief betrokke te raak by die dorp.
“Hulle pa’s is nou vurige rugbyondersteuners en moedig hul seuns aan om rugby te speel. Die skole in die township het voorheen net sokker gespeel en ons moet hulle oorreed om rugby ook te speel,” het Hammond gesê.
Op dié manier kan ons skolerugby versterk, borgskappe verkry en vir onervare spelers blootstelling aan wedstryde gee om hulle voor te berei vir harde klubrugby.”
Die Kwagga-klub het tans 29 spelers wat op Woensdag begin oefen. SARU en die BBRU het reeds maatreëls aan klubs uitgereik sodat spanne veilig kan oefen.
Hammond het gesê die plan is om voorlopig op fiksheid en krag te fokus en spangees op te bou. Aanstaande maand sal die spelers moontlik met tegniekoefening kan begin en sal spanoefening met bewegings dan volg.
“Ons sal elke spanlid voor elke oefening vir Covid-19 simptome toets en rekord hou. Die korrekte sosiale afstande sal op die veld gehandhaaf word en alle toerusting sal voor die oefeninge gesteriliseer word. Die span sal egter nie saam kragoefeninge by ’n gimnasium mag doen nie, maar mag individueel by gimnasiums oefen. Spelers mag ook nie handdoeke deel nie,” het hy gesê. “ Ons beplan fondsinsamelingsprojekte om vir die span alle geleenthede te bied. Ons wil ’n kampioenspan tot stand bring.”
Spelers wat belangstel om by die klub aan te sluit, kan op Maandae en Woensdae vanaf 17:30 op Hoërskool Warmbad se velde by die klub aansluit. Die klub sal tot verdere kennisgewing tot op Maandag 14 Desember oefen en dan sluit vir die feesseisoen.