Local sportSport

Rugby uiteindelik weer toegelaat

Rugbyklubs het die afgelope week goeie nuus ontvang nadat die Suid-Afrikaanse-Rugby-unie (SARU) bekendgemaak het dat spanaktiwiteite weer — binne perke — na normaal mag terugkeer.

Rugby het aan die einde van Desember ’n verdere terugslag beleef toe hul bedrywighede weer met die hernude vlak 3-inperkingsmaatreëls opgeskort is.

Ingevolge die nuwe riglyne mag skole en sportklubs weer met oefeninge begin. Die voorwaarde is steeds dat daar geen kontak tussen spelers mag wees nie.

Professionele rugbyspanne mag wedstryde speel. Skole en amateurklubs mag onder die huidige inperkingsreëls nie wedstryde speel nie.

SARU het klubs aangeraai om die volgende vier weke te gebruik om op spelers se fiksheid en kragbou te fokus. Voorts raai hulle klubs en skole aan om verantwoordelik op te tree en om nie van die voorsorgmaatreëls af te wyk nie.

Die Kwagga-rugbyklub het dadelik met voorbereiding van dié klub se tuisveld by Hoërskool Warmbad begin. Drummond Hammond, klubvoorsitter, het by navraag gesê sover sy kennis strek, en na afloop van samesprekings met die Blou Bulle-bestuur en plaaslike skole, is die klub goed op dreef.

“Die klub se geldsake lyk goed, die bestuur en die afrigters is gemotiveerd en hulle gaan gewis voordeel trek uit die direkte skakel wat hulle met die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) het. Dit kan vir kleiner klubs en skole net voordeel inhou as die BBRU betrokke is.”

Die klubbestuur doen nog navorsing oor moontlikhede om belowende jong rugbyspelers in die omgewing te behou deur vir hul werkgeleenthede aan te bied. Dit sal egter deeglike beplanning verg om almal se belange te beskerm, het Hammond gesê.

“Ons behoort teen Maart met die skole se ouers en sakelui in verbinding te tree oor die verskillende voordele wat rugby vir die groter gemeenskap inhou. Die fonds­insame­lingsprojekte wat ons reeds beplan het, sal aan almal ’n hupstoot gee,” het hy gesê. “Al ding ons teen sterk klubs en groter skole mee, begin alles by blootstelling en die ontwikkeling van buitengewone talentvolle jong spelers. Hul suksesse op die sportveld sal die dorp help bemark.”

Die Kwaggas het op Woensdag 17 Februarie met hul eerste amptelike oefeninge vir die jaar begin en nooi alle voornemende spelers om deel van die rugbygemeenskap te word.

  • Skandeer die foto in die gedrukte uitgawe van Die Pos met jou slimfoon om die video te sien. Maak seker jy laai die PixzAR-toep af

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button