Local sportSport

Boompies bied weer ná twee jaar ’n atletiekbyeenkoms aan

Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong het vanjaar weer die geleentheid benut om hul jaarlikse interlaerskole-atletiekbyeenkoms op Dinsdag 15 Februarie aan te bied.

Die atletiekbaan en veld was in ’n puik toestand en atlete en ouers het gesê hulle het die dag terdeë geniet.

“Dit was lekker om ná ’n gedwonge afwesigheid van twee jaar weer ’n dag aan te bied wat opwindende atletiek opgelewer het,” het Marina Gravett, skoolhoof, gesê.

“Dit was vir die Boompies ’n voorreg om so baie skole te ontvang. Van die skole wat genooi is, het reeds ander byeenkomste gehad en kon die dag ongelukkig nie bywoon nie.”

Die sewe deelnemende skole was Euphorbiaskool, Laerskool Vaalwater, Laerskool Byzonderheid, Laerskool Koedoeskop, Laerskool Nylstroom, Laerskool Unitas en Laerskool Eugène N. Marais.

’n Paar van die Boompie-atlete het baie goed gevaar. Paul de Haas het eersteplekke in die 1500 m en 800 m vir seuns o.13 behaal.

Ragab Smith was vierde in die 150 m-hekkies vir meisies o.12 en Mieke du Toit was derde in dieselfde item.

Ruben Rall was tweede in die hoogspring vir seuns o.10. Daar was vanjaar geen sangers wat atlete kon aanmoedig nie.

“Ons is baie trots op ons atlete en sien uit na die ander sportsoorte wat binnekort begin,” het Gravett gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button