Local sportSport

Waterberg-drawwers presteer tydens landloop-kampioenskap

Die eerste ronde van die Limpopo-landloopkampioenskap het op Saterdag 9 April by Tarentaalpan net buite Thabazimbi plaasgevind.

Honderde atlete uit die Waterberg-distrik het vanjaar die wind en weer aangedurf om aan dié gewilde kompetisie deel te neem. Volgens René Coetzee, verteenwoordiger van Limpopo-atletiek, was die eerste ligabyeenkoms in die reeks ’n wegholsukses.

Die verteenwoordigers het die afgelope week hard gewerk om die uitslae van elke wedloop na te gaan en het vroeër die week die finale uitslae bevestig.

Van die hoogtepunte by die liga was die uitsonderlike prestasie van Harry van der Merwe (77) van Modimolle wat die 4 km-roete in net onder 23 minute kafgedraf het.

Die 63-jarige Meriam Gafane van die Universiteit van Limpopo het ook die koppe laat draai toe sy in ’n rekordtyd van 24 minute en 22 sekondes oor die wenstreep van die 4 km-roete gehardloop het.

Lianka Raath(8) van Thabazimbi het gewys dat dit nie net gesoute atlete is wat die rekordboeke haal nie en het haar afdeling gewen deur die 1 km-roete in 5 minute en 12 sekondes klaar te maak.

Die sesjarige Lara Minnaar, een van die jongste deelnemers by die byeenkoms, was kort op haar hakke en het algeheel derde geëindig in ’n tyd van 5 minute en 29 sekondes.

Liezel Blignaut, afrigter van die Thabazimbi-landloopklub wat vanjaar vir die eerste keer die wedloop aangebied het, het aan Die Pos gesê sy en die organiseerders is baie dankbaar vir die opkoms by vanjaar se kampioenskap.

Die nat weer kon ’n demper plaas op die reëlings, maar die atlete het gewys hulle het deursettingsvermoë en ’n nat baan skrik hulle nie af nie.

“Ons is baie dankbaar dat daar ook geen ernstige beserings tydens vanjaar se kompetisie was nie en ons kry baie goeie terugvoer oor die dag.”

Blignaut het verder gesê sy is baie trots op haar klub se atlete wat baie hard gewerk het ter voorbereiding van die byeenkoms.

Die Thabazimbi-atlete het hul klub se naam hoog gehou en in elke kategorie was een van hul atlete onder die top 10.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button