Local sport

Hansies kook by interhoër

Die leerders van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het Donderdag 28 Julie aan die jaarlikse interhoër vir skaak, landloop, gholf en redenaars by Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane deelgeneem en goeie welslae behaal.

“Ons deelnemers het weer gewys die Hansies maak die reëls in 2022. Ek is baie trots op die leerders en hul prestasies. Dit getuig van harde werk en deursettingsvermoë van die leerders en hulle afrigters,” het Rinus de Jager, hoof, aan Die Pos gesê.

Die senior redenaarsspan was algeheel eerste en Allanah Cawood was die wenner van die Engelse redenaarsafdeling. Sy het ook die hoogste punt vir die dag ontvang en is aangewys as die beste spreker van die dag in al die kategorieë.

Isabella Rentroia het ’n tweede plek losgepraat in die voorbereide toespraak in Engels en Isebelle de Beer was tweede in die onvoorbereide toespraak in Afrikaans. Reuben van der Wal was derde in die voorbereide toespraak vir juniors.

Die Hansies se landloopspan het uitstekend gevaar en was die wenners van die interhoër. Die junior meisies en die senior seuns het derde plekke behaal en die junior seuns en senior meisies is as wenners aangewys.

Die B-liga gholfspan het ’n vierde plek verwerf en die C-ligaspan het tweede geëindig. Die B-liga het ook vanjaar tweede in Limpopo geëindig.

Die skaaktoernooi is volgens die Buchholz-reëls gespeel. Die speler met die hoogste telling aan die einde van die toernooi was die wenner. Elke skool kon 12 spelers inskryf — verkieslik agt o.16- en agt o.18-spelers. Die Hansies se Xuan Pretorius het ’n tweede plek in die o.16-afdeling behaal en sy spanmaats Johan Pieterse was vierde, Yannich Pretorius sesde en Juan Muller sewende.

Daar het 44 leerders in die o.16-afdeling deelgeneem en 33 in die o.18-afdeling. Die uitslae van die onderskeie skole was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button