Local sport

Hansies skitter by Bosveld Interhoër

Die atlete, sangers, onderwysers en ouers van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het Saterdag 25 Februarie reeds vroegoggend vertrek om deel te hê aan die 59ste Bosveld Interhoër in Groblersdal.

Die Hansies se atlete het soos in die verlede hul man gestaan en 14 goue, sewe silwer en 26 bronsmedaljes verower. “Ons atlete het hulle knap gedra op die baan en op die veld en ons is trots op elkeen van hulle. Ons het vanjaar ook meer medaljes gewen,” het Rinus de Jager, hoof van Hoërskool Hans Strijdom, aan Die Pos gesê.

Cara Louw het ’n rekord in die spiesgooi vir meisies o.17 verbeter waarmee sy 966 punte vir ’n enkele item op die Absa-tabel behaal het. Die rekord is in 2016 deur Marinė Visser, ’n oud-Hansie, opgestel en Louw het die rekord met vyf meter verbeter. Haar afstand was ’n allemintige 45,48 m.

Marcus van der Walt het twee goue medaljes en een silwer gewen vir sy drie items — 200 m, 400 m en 800 m seuns vir o.17. Hiermee het hy ’n totaal van 2431 punte op die Absa-tabel verwerf.

Hansies se atlete saam met hulle Leeu tydens die optog. Marli Hofmann en Lian Janse van Rensburg is die vaandeldraers. Foto: Jeane- Marie Heyns Fotografie

Elandi van Staden het ook twee goue en een silwer medalje verwerf vir haar pragtige wedlope in die 300 m hekkies, 800 m en 1500 m vir meisies o.15. Sy het 2148 punte verwerf. Janneman Benson het in die seuns o.16-gewigstoot en diskus goud behaal. Die Hansies se o.17-seuns het onder luide applous die aflos-item gewen.

Pieter Harmse wen goud vir gewigstoot vir seuns o.17, Zander Law wen die 110 m hekkies vir seuns o.17, Kylie Viviers seil oor die dwarslat en wen goud vir hoogspring meisies o.16. Jolani Bronkhorst wen die 400 m vir meisies o.17 en Ruth Masenya wen die 400 m-hekkies in dieselfde ouderdomsgroep. Eduann Steyn wen die 300 m hekkies vir seuns o.14. Paballo Nkoana wen ook sy seuns o.15-hoogspring en Mario Opperman die 400 m vir seuns o.15.

“Ons is baie dankbaar vir ons atlete se mooi prestasies. Dit het baie ure se harde oefening en uithouvermoë geverg om tot hier te kom,” het Lebu van Heerden, adjunkhoof van sport, aan Die Pos gesê.

De Jager het ook die sangers en dirigente gelukgewens wat alles in die stryd gewerp het om die dag ’n sukses te maak.

Die 60ste Bosveld Interhoër word aanstaande jaar deur Hoërskool Hans Strijdom aangebied. “Ons sien uit daarna om die ander skole te ontvang,” het De Jager gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button