Local sport

Droom groot, sê Olympia-afrigters

Die afrigters van die Olympia/Aqua Coaching-groep in Bela-Bela is opgewonde om sport en algehele gesondheid in die omgewing te bevorder.

“Ek dink daar is te min swemskole in ons omgewing om in die aanvraag te voldoen. Swem is vir ons prettig, maar dit gaan ook daaroor om jong kinders van vroeg af te leer hoe om in die water te oorleef,” sê Chantelle van Schalkwyk, Olympia-stigter.

Chantelle het vanjaar twee oud-Warries wat in 2022 gematrikuleer het — Megan Prinsloo en Bianca Van der Walt — as afrigters nader getrek.

Megan rig atletiek en hokkie af en Bianca sal hoofsaaklik as swemafrigter werk.

Megan studeer tans onderwys deur Aros.

Sy het baie goed in hokkie en atletiek presteer terwyl sy ’n leerder van Hoërskool Warmbad was.

Bianca het reeds haar vlak 1-swemkursus deur Swim Dynamic voltooi wat kandidate namens Atletiek Suid-Afrika (ASA) akkrediteer. Sy het ook ’n nood-
hulp-kursus voltooi.

“Ons stap ’n lang pad saam met Chantelle en vertrou haar al vir jare as ons mentor. Dit was egter ontsettend moeilik om haar ou atletiekrekords by die skool te probeer verbeter,” lag Megan.

Chantelle is ’n bekende gesig langs en op die atletiekbaan en swembad.

Haar baanrekords (in 3000 m, 1500 m en 800 m) by Hoërskool Warmbad staan steeds in die rekordboeke opgeteken.

Sy spog ook met Springbokkleure in tweekamp waar sy jaar na jaar tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskap geskitter het. Sy is deesdae ’n vlak 2-swemafrigter wat kleuters en babas leer swem en sy bied ook water-aerobiese klasse aan.

“Ek het vroeër jare saam met wyle Van Reenen (Van) Cloete en wyle Linda van Heerden swem afgerig. Van was ook jare lank my afrigter. Ons almal mis hom en ervaar die leemte wat sy dood gelaat het,” vertel Chantelle.

“Ek woon al my lewe lank in Bela-Bela. Die swembad wat ons by Olympia ingerig het vir ons swemmers is die einste swembad wat my oorlede oupa, Kallie Boshoff, destyds gebou het.”

Sy vertel dat haar inspirasie om sportafrigting te doen ontstaan het terwyl haar oudste dogter, Stefani, destyds in- en uit die hospitaal was vir behandeling. Stefani ly aan ’n ongeneeslike siektetoestand wat haar serebraal verlam gelaat het. Chantelle en haar man, Theunis, vir wie sy groot waardering het, het in 2020 ook die ouers van tweelingseuns geword.

“Ek het gereeld tydens ons hospitaalbesoeke kinders gesien wat opgeneem is weens verdrinking. Dit het my laat besef dat ek ’n bydrae het om te lewer omdat ek nog altyd in swem presteer het. Kinders en selfs babas moet van jongs af gemaklik in die water wees sodat hulle instinktief kan begin skop en asem ophou om te oorleef indien hulle onverwags in die water beland,” vertel sy.

“Pret is noodsaaklik, maar dit is ook belangrik om reëls en toesig te hê en verantwoordlikheid by kinders en ouers te kweek.”

Sy en haar twee mede-afrigters meen kinders moet aktief besig bly en nie hul tyd met tegnologiese toestelle vermors nie. Ouers kan hul kinders met ’n geruste hart by die swemklas aflaai.

“Daar is geen beter plek vir ’n kind om sy oortollige energie te verbrand as in ’n swembad nie,” sê sy.

“Volwassenes, nuwe ouers en kinders kan van emosionele stres ontslae raak deur gesond te leef. Gereelde oefening kweek goeie atlete en gesonde mense,” sê sy.

“Ons slagspreuk by Olympia is: droom groot.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button