Nylie nael langs wêreldkampioen
Dit is ’n groot oomblik vir ’n skole-atleet om aan te tree in ’n uitdunronde van die Suid-Afrikaanse senior atletiekkampioenskap.

Die oomblik is nóg groter wanneer jy in die baan langs die 400 m-wêreldkampioen wegspring.
Daniël Briel,’n matriekleerder aan Hoërskool Nylstroom, het op Donderdag 30 Maart deelgeneem aan hierdie item tydens die kampioenskap in Potchefstroom.
“Een van die ander atlete het vir my ’n boodskap gestuur dat hulle sien ek spring volgens ’n nuwe lys wat uitgereik is, langs Wayde van Niekerk weg. Ek kon dit nie glo nie. Ek is ’n groot aanhanger!”
Van Niekerk is die huidige wêreld- en Olimpiese rekordhouer in die item. Hy is die enigste atleet ter wêreld wat die 100 m in minder as tien sekondes kon hardloop, die 200 m onder 20 sekondes, die 300 m onder 31 sekondes en die 400 onder 44 sekondes.
Toe Briel die nuus op sy oefengroep deel dat hy langs Van Niekerk wegspring tydens die uitdunne, het sy mede-atlete hom tong-in-die-kies aangemoedig:
“Jy hoef net by hom te bly, dan sal jy fine wees!”
Van Niekerk het die uitdunronde, asook die finaal met indrukwekkende tye gewen. Volgens kenners voorspel dit goeie dinge vir die seisoen wat voorlê. Van Niekerk, wat in 2017 beseer is, het sy oog vanjaar op nóg ’n wêreldrekord en nóg goue medaljes.
Briel het in die sesde plek geëindig.
“Ek was baie teleurgesteld met my tyd. Dit was nie een van my bestes nie. Dit was egter steeds ’n ongelooflike ervaring.”
Hy het die Maandag ná die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem aan die skolekampioenskap waar hy ’n tweede plek in een van drie uitdunrondes behaal het. Hy het uiteindelik derde in die finale wedloop vir seuns o.19 geëindig.
Briel sê hy was op laerskool ’n langafstandatleet.
“My afrigter, Jaco Vosloo, het my aangemoedig om die 400 m te probeer.”
Hy is vol lof vir die afrigting wat hy by Vosloo ontvang.
“Ons het ’n fantastiese oefengroep en daar is soveel motivering en positiwiteit. Dit is lekker om op te daag vir oefening en dit maak ’n groot bydrae tot ’n mens se sukses.”
Briel beplan om volgende jaar vir ’n BSc-graad in landbou aan die Universiteit van Noordwes te studeer.
“Ek droom daarvan om in 2024 aan die Suid-Afrikaanse junior atletiekkampioenskap deel te neem en dalk eendag in Europa te kan hardloop,” het die jong blits gesê.