Hengelaar katrol die grotes in
Hoërskool Warmbad in Bela-Bela spog met ’n leerder, Chené Swart (15), wat die hengelbordjies ’n bietjie verhang het.

Sy het in 2022 mededingend begin hengel toe sy by die Swerwers-hengelklub aangesluit het. Chené het sommer gou gewys sy het groot talent en het ’n spesiale aanslag met haar visstok, want ná slegs drie liga hengelkompetisies was sy in die algeheel eerste plek in die junior vroue-afdeling in Limpopo.
Hierdie prestasie het erkenning vir die klub gebring en ook ’n geleentheid vir Chené geskep om Limpopo in die junior-afdeling by die Kamp van Kampioene-kompetisie by die Vaaldam in Gauteng te verteenwoordig.
Chené het in 2023 in die skoleliga haar merk gemaak. Sy is gekies as lid van die o.19-vrouespan wat Limpopo by die Suid-Afrikaanse Skole Kamp van Kampioene-kompetisie by die Bloemhof-dam verteenwoordig.

Dié kompetisie, wat vanaf 9 tot 13 Desember in Noordwes plaasvind, sal ’n intense stryd wees waar 11 spanne van regoor Suid-Afrika sal meeding. Chené is slaggereed vir hierdie uitdagings.
Een van Chené se hoogtepuntprestasies is die baber van 10,8 kg wat sy by die Nylrivier in Mokopane uitgetrek het. Sy het ook ’n knewelkarp van 7,6 kg by die Roodekoppie-dam gevang. Hoewel sy slegs ’n jaar aan die sport deelneem, het sy al groot visse aan die hoek gehad.
Chené se passie vir die sport, toewyding, talent en dryfkrag om Protea-kleure te verwerf, maak van haar ’n opkomende ster wat dalk binnekort sal lyn natmaak in internasionale waters.