Nylies nael vir ’n vale tydens interhuis
Hoërskool Nylstroom se Elande en Kudu’s het mekaar, soos wat dekades lank al die tradisie is, onlangs weer gepak tydens die huissport-atletiekbyeenkoms.

Die dag het mooi atletiek opgelewer met talle atlete wat hul beste prestasies tot dusver hierdie seisoen opgelewer het.
Tiaan Steffen is aangewys as die beste seun in worpe en Amy-Jane de Villiers as die beste meisies veldatleet.

Pieter van Heerden was die beste seun in spronge en Mieke Mienie die beste in die meisiesafdeling. Diano Moses het oor die hekkies geblits en met dié toekenning weggestap, terwyl Amy-Jane die beste meisie in die hekkies was.
Die blitsige Kgethego Matlou en langasem Jessica Putter het weggestap met die toekennings as beste middelafstand-atlete.

Thabang Mashaba en Tehila Feldman was die beste in naellope.
Diano Moses is as junior Victor Ludorum aangewys en Danelle Roos as junior Victrix Ludorum. Mieke Mienie was die senior Victrix Ludorum en Tiaan Steffen die senior Victor Ludorum. Tiaan is ook aangewys as die beste atleet van die dag.
Die Kudu’s het die Elande met meer as 200 punte ore aangesit en weggestap as wenners van die 2024- huissportbyeenkoms.