Local sportSchools

Hansies spog met nuwe gimnasium

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong spog deesdae met ’n splinternuwe gimnasium by die skool se sportvelde. Morné en Hannelie Vorster, oorspronklik van Mogale City (Krugersdorp) aan die Wesrand, is nou die dinamiese instrukteurs by Rateltaai Fit-gimnasium.

Die Vorster-egpaar het saam meer as 30 jaar ondervinding in die fiksheidsbedryf, waar hulle hoofsaaklik vir twee baie bekende gimnasiums groepsklasse aangebied het. Hannelie is ’n gekwalifiseerde persoonlike instrukteur asook ’n sport masseringsterapeut en spesialiseer in diep weefsel sport massering en limfdreinering.

Morné oefen en adviseer atlete in uithou sportsoorte. Hy is self ook ’n atleet wat plaaslik en internasionaal al elf keer aan die Ysterman-kompetisies deelgeneem het. Asof dit nie genoeg is nie, het hy ook tien maal die Comrades-ultramarathon suksesvol voltooi. Hy is ’n bekende in die MTB-skofwedlope ook.

“Ons glo om atlete in totale liggaamsfiksheid en kondisionering te ontwikkel, wat insluit uithouvermoë, krag, spoed, stamina, soepel-en ratsheid. Die Hansie-atlete doen 45 minute hoë intensiteit oefeninge waar ons krag en kardio kombineer. Dit is wonderlik om te sien hoe atlete se selfvertroue herstel en hul resultate verbeter. Dit is genoeg werksbevrediging vir ons en dit is die impak wat ons wil maak,” het Hannelie gesê.

Dit is al vir 31 jaar haar passie om ’n verskil te kan maak in mense se lewens, fisies, psigies en geestelik.

Morné het met groot entoesiasme vertel dat dit hom gelukkig maak wanneer hy sien hoe sy energie oorvloei na die mense in sy klas.

“Dit moet altyd lekker, hard maar ook pret wees. Ek is ’n uithou-sport “junkie” by uitstek, en stel veral belang in die ontwikkeling en verbetering van ’n persoon se stamina en vo2max (optimale suurstof benutting). Om te ervaar hoe iemand hard en voluit werk daarvoor om hulle beste self te wees, is wat my dryf.,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button